Agtergrond

Ek is gebore in die koue Vrystaatse dorpie, Betlehem. In 1989 word my pa, wat vir Spoornet gewerk het, oorgeplaas na Ermelo – selfs ‘n kouer plek.  In Ermelo het ek grootgeword, skoolgegaan, nonsens aangevang en dies meer. 

As jy my vra, sal ek sê dat ons maar ‘n middelklas gesin was. Volgens my ma was ons soms baie arm.  Ek dank die liewe Heer dat die swaarkry waarvan my ma praat, nooit aan my kom vasklou het nie, en dat ek met vrede en dankbaarheid kan terugkyk na my kinderjare. My ouers, albei mense met integriteit en trots. Hul het ons grootgemaak, met diepgewortelde christelike waardes.  En ten spyte daarvan, het ek na skool ‘n effense rebellie beleef. maar dit het vinnig oorgewaai. 

Ek was 21 jaar oud, toe skei my ouers . . . ons lewens het onherroeplik verander. Dit was asof iemand ‘n baie groot klip in ‘n baie klein poeletjie water kom gooi het. Die rippel effek van gebrokenheid het ons gesin verlam, ons fondamente geskud en ons vir ewig beroof van ‘n ouerhuis.  

In 2006 skud ek, die klein-dorpie-stof van my skoene af en word ek ‘n Pretorianer.

Iets waarop ek nie graag wil uitbrei nie, maar wat ek ook nie kan ignoreer nie, want dit het my help vorm en geskuur in die mens wat ek geword het, is die lys stukkende verhoudings. Op die ouderdom van 27 leer ek myself vir die eerste keer eers ken. ‘Sy is toe nie so bad soos wat sy begin dink het, sy was nie.’

Ek besluit toe, in daai tyd, om ‘n jaar opsy te sit en my energie te stort in iets wat ewigheidswaarde dra. . . So raak ek deel van die geestelike leierskap wat ‘n groep tieners Botswana toe vat vir ‘n uitreik en ek raak betrokke by berading vir mishandelde kindertjies. Dit verryk my lewe, gee my rigting en maak ‘n opregte belangstelling in mense, binne my wakker.

Op ‘n weird en wonderlike manier, ontmoet ek in 2012 my trou-man . . . die timing was so verkeerd, tog perfek.  Hy breek al my mure af, en kom maak my stukkende hart heel.  Twee jaar later seën die Here ons met ‘n dogtertjie.  En ek word ook die stiefma vir twee handsome jongmanne.

Ek leef vir ons gesin. En ek vat my rol as mamma en vrou baie ernstig op, want ek glo dit is ‘n absolute voorreg. My passie vir mense, het my ook gedryf om betrokke te raak by die gemeenskap en so het ek ingeskakel as ‘n berader by die Krisis Sentrum in ons area. Ek offer myself gereeld, vir dit wat na aan my hart lê, seker omdat ek self al gedrink het uit die beker, van bitter en van soet.

Ek het besef, Ons is almal maar op ‘n manier, damaged goods. En dis okay . . . want dit kom maak die speelvlak tussen elkeen van ons gelyk.