Kom ons braai in die kamer. . .

Wat is geselliger as ‘n lekker braai?  Ons braai wanneer ons sport kyk, wanneer ons iets vier, wanneer ons koud kry, wanneer ons saam vriende kuier en soms braai ons selfs wanneer ons wil eet. . . Ons het tot ‘n dag, wat ons Braai-dag noem. 

Groot vlamme, baie kole, skaap tjoppies, sagte musiek in die agtergrond, vriende wat lag en gesels, ‘n glas rooiwyn, ‘n koue bier of ‘n warm koppie koffie . . . Die atmosfeer trek ‘n mens in. As ons ons oë toemaak en ons dink aan braai, kan ons die braaivleis ruik, die hitte van die vuur voel, kan ons die musiek in die agtergrond hoor en kan jy selfs die bier of wyn in jou mond proe.  Dit maak al ons sintuie wakker en daarom is dit ‘n gunsteling onder so baie mense. 

Mense spandeer geld op braai; Bou sommer ‘n vertrek aan, en installeer ‘n fancy braaier, plak ‘n sticker op jou bakkie sodat jy jou liefde vir braai met die wêreld kan deel.  Pa’s kry ‘n nuwe braaitang of voorskoot  vir vadersdag, met sy naam daarop.  Moenie lag nie, dis hoe dit is. Ons doen moeite met braai.  Baie moeite. 

Gun my die geleentheid om lekker met woorde te speel vandag, en vertrou my om dit met respek en in styl te doen . . . want hier praat ek nie regtig oor braai nie, ek deel iets oor seks . . .

Jip, staan van die vloer af op, klim terug op jou stoel, maak jou mond toe. . . dis ‘n eerste vir my ook.   Ek is ‘n gewone mens, in ‘n wonderlike-gewone huwelik, met gewone gewoontes, maar duidelike grense.  Ek het ook maar groot geword in ‘n tyd, toe ons ouers nog glad nie gemaklik was daarmee, om met ons oor seks te gesels nie.  Ons is net die nodigste vertel.  Genoeg om te weet waar babas vandaan kom, thats it!

Ek het tydens berading, met ‘n skok besef dat mense graag daaroor wil praat, maar dat hul nie weet of hulle mag-, of hoe nie.  Die gemiddelde vrou sukkel om oor seks te praat, veral met haar eie man.  Vreemd, maar dis waar.  

Ek is ‘n vrou, daarom voel ek soos ‘n vrou en ek dink soos ‘n vrou, en daarom mag die manne dalk meer baat by hierdie stukkie en die vriendinne gaan moontlik net hul koppe knik en glimlag, want ek is amper seker ons is almal min of meer, dieselfde bedraad.  En natuurlik mag jy met my verskil . . . different strokes for different folks. . . ek sê maar net. 

Nou kyk, Meneer-Braai . . . As jy besluit om die naweek te braai, dan bel jy jou vriend, sommer die Dinsdag al, om seker te maak hy hou saterdag oop.  In jou besige skedule, maak jy tyd om te dink aan vleis en blits en hout en drank. En jy maak seker dat jou vrou ook reg is vir die storie en dat sy haar kant sal bring met die braai-broodjies en slaai. Vrydag bel jy vir Frikkie om seker te maak dat dit nog reg is met hulle.  Kom saterdagoggend, is jy vroeg wakker, jy gaan doen inkopies, jy sê vir Lucky hy moet die stoep afspuit en die braaier was.  Jy pak die hout uit en steek die vuur aan. 
Baie hout, maak meer kole.  Groter vuur, maak warmer. Lekker vriende, sorg vir goeie geselskap.   Dis ‘n hele gedoente en dit vat nogal moeite.

Manne, ek is seker teen die tyd sou jy nou al die trant begryp . . . Dis nie net van gryp nie.  Dis ‘n gedoente, dis ‘n storie. . . en as jy moeite doen, is dit ‘n lekker storie. 

Steve sê in een van sy songs, dit het begin by ‘n gevoel, hy praat seker hier van vrouens, want vir ons kan dit nie sommer net gebeur nie, ons moet iets voel.  Dis hoe die Liewe Heer ons aanmekaar gesit het.  Wat sy voel, gaan van jou afhang, Meneer. 

Vrouens is reageerders. ‘n Man doen iets, en ‘n vrou reageer daarop.  Dis presies hoe die huwelik en die dinamika tussen mans en vroue werk.  Toets dit gerus.  Gooi nou vanaand jou handdoek op die badkamervloer en los hom daar as jy klaar gestort het, kom laat, of vergeet ‘n belangrike dag. . . die reaksie gaan nie goed wees nie, Guaranteed.  Dit is werklik so eenvoudig soos 1 2 3.  

As jy vanaand wil braai, begin jou dag reg. . . gooi kole! Onthou, dis ‘n gedoente.

Koffie in die bed, ‘n whatsapp deur die dag om haar te herinner dat jy haar liefhet, ‘n oproep om te hoor of sy iets van die winkels af nodig het.  As jy by die huis kom, gaan staan by haar in die kombuis terwyl sy besig is om kos te maak, begin solank die uie sny, hoor hoe was haar dag. Bied aan om die kleuter te bad, gooi vir haar ‘n glas wyn. Na ete, vat jy die borde kombuis toe en sit dit in die wasbak. Terwyl sy bad of stort, sit ‘n blom, wat jy sommer in die tuin gepluk het, op haar kussing neer.   More tap jy badwater of iets.

Dit hoef jou nie ‘n braai se prys te kos nie, maar dit vra ‘n bietjie effort.  Probeer dit een dag in ‘n week, vir die volgende 6 weke.  Na ‘n tyd, sal jy besef dat dit meer natuurlik kom, en dat dit nie meer soos ‘n effort voel nie.  Wees kreatief.  Vele studies het ook al bewys dat ‘n opregte kompliment, iemand se hart laat vinniger klop.  ‘n Vrou wat voel dat sy waardeer word, doen meer as wat van haar verwag word. Maak seker dat jou vrou geliefd voel. . . Skep vir haar ‘n veilige spasie om kwesbaar te mag wees, dit boesem vetroue in.

Natuurlik is daar twee kante aan elke muntstuk, en daarom is my raad aan elke vrou;

Kyk na jouself, leer om die klein goedjies raak te sien, reageer met liefde, sit ‘n wag voor jou mond, maak seker jy is vir jou man ‘n trots en ‘n ondersteuning, dra die kroon van Vrou-wees met selfvertroue en vir die wis of die onwis, dra ‘n houertjie panado’s in jou handsak. 

Vrouens hou eintlik net so baie van braai . . .

Gooi mielies!

NASKRIF; Liewe Vriende, hierdie blog sal my slapelose nagte gee, as ek versuim om te noem; Die wêreld wil ons geduring leer van veilige seks, maar vetrou Die Een wat dit gemaak het, seks is slegs veilig binne die huwelik. Dis gee ons ‘n lisensie tot speelse, ware intimiteit. Wees verseker, ek praat nie uit ‘n plek van oordeel nie, maar uit ondervinding en die rede vir my rou eerlikheid is absolute vergifnis.



One thought on “Kom ons braai in die kamer. . .

  1. Fantasties gesê… Ek stem saam jou. Ek kan nie meer beklemtoon hoe belangrik dit is om met jou maat openlik en eerlik oor seks te praat nie.
    En wat is dan nou lekkerder as om saam aan daardie “braai” te beplan.

    Geniet dit.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s