Wanneer ‘n halleluja stil raak. . .

Op ‘n tyd was ek seker die beste ding in jou lewe. . . en toe ek ‘n klein dogtertjie was, was jy ook seker my hero, want dis wat pappas vir hul dogtertjies is. 

Dad, die doel van hierdie skrywe is nie om te fokus op die kwaai en baklei of sleg nie, maar dit kan ongelukkig ook nie heeltemal uitgesluit word nie, want dit is deel van die Skattie-Dad-storie.   Jy sal nooit hierdie stukkie lees nie, maar ek skryf dit vir jou . . . sonder oordeel, sonder verwyt. . .

Ek het soveel mooi herinneringe, van kind-wees in pa se huis. Ek koester die Betlehem dae, hoe pa soms saam met ons by die parkie gespeel het, my aan my arms rondgedraai het tot ek wou naar word.  Die kere, wat pa saam met al die buurt se kinders krieket gespeel het, en hoe pa eenkeer vir Gideon, die Kapelaan se seun, wou bykom, omdat hy my seergemaak het. Ek onthou sondagaand, driehoekbroodjies en rooibostee, op ‘n kombers in die tuin.  Stilte tyd, saam pa en ma op jul bed, elke aand.  Ek weet nie van nog ‘n gesin wat dit gedoen het nie. 

Soveel lekker vakansies.  Maar Hartenbos en Mosselbaai was van die lekkerstes.  Ek weet pa moes maar hard werk, om so trippie te kon bekostig.  Vir ure het ons saam geswem en op die strand gespeel, het ek en Renelle vies geraak wanneer pa ons sandkastele kamtig per ongeluk stukkend skop. En wannneer pa lus was vir roomys, sou pa ons opsteek om vir ma te vra.  Pa het mos nooit ‘n beursie gedra nie.  Ma het daarop aangedring dat ons ons gesigte wit smeer met al die sunscreen.   Pa se neus het altyd in die slag gebly, maak nie saak hoe dik pa die wit goed geplak het nie.  Die dat pa nou so met ‘n rooi neus sukkel.  Ai tog.  

Ons het grootgeword en pa het nie meer kans gesien vir ons twee meisiekinners met tiener streke en boyfriends nie.  Ons het toe maar meer ma dogters geword.  Nietemin het ons ‘n pa gehad, wat ons als gegee het wat hy kon, behalwe toestemming om te gaan sokkie.

Kerkmense het pa Oom Willie Halleluja genoem.  .  . En ja, dit is wie pa is, want ten spyte van al die verkeerde draaie, was Pa se liefde vir die Here onwankelbaar.  Dis hoekom die egskeiding vir my so groot teleurstelling was.

Ek moet diep delf om hierdie dinge te gaan uithaal en daaroor te praat, want ek het gekies om dit te bêre . . . alhoewel ek nooit als kon vergeet nie.

Ek onthou hoe pa verby my geloop het in die huis, op my 21ste verjaarsdag, sonder om my te groet.  Hoe die fondasie tussen ons gekrummel het, toe jy vir my gesê het, dat ek jou nie meer pa mag noem nie.  Hoe bitter moeilik dit vir my was om verby pa in die dorp te ry en hoe seer dit gemaak het, omdat pa nie meer deel van ons gesin was nie.  Vir ‘n jaar of twee was ons eintlik maar strangers vir mekaar.  Daar het ek ‘n belofte aan myself gemaak, wat ek later jare deurgevoer het, al was dit vir my moeilik. . .

Laat in 2005 kom die groot hartaanval en hart operasie en die bitter seer wat ek destyds gehad het, voel toe minder erg, want om langs jou pa se bed te sit en sy koue hand vas te hou terwyl jy bid dat die Here hom sal spaar, sodat julle kan regmaak. . . is bitterder.  Ek is dankbaar, so baie dankbaar dat pa deurgetrek het. 

Ek kan nie hierdie goed neerskryf sonder om die tissues nader te trek nie, want die knop in my keel word groot en my oë brand soos ‘n bol vuur. . . Ek het Ermelo verlaat, want die seer en hartseer wat hierdie klein dorpie aan my uitgedeel het, het meer begin weeg as die goed.  Die jare nadat ek weg is, was pa se moeilikste jare, ek weet. . . Maar die Here stuur toe vir Gianni oor pa se pad. Julle vorm ‘n pa-seun verhouding en hy word ook my beste este vriend.  Terwyl hy ‘n oog oor pa gehou het, kon ek rustig wees.  Maar die Here gee en die lewe neem . . . 28 July 2011 sterf Gianni in ‘n motor ongeluk.

Ek is stukkend! 

Pa is verlore!

‘n Paar maande later, neem pa amper pa se eie lewe.  Dit dwing my en Renelle om ‘n baie vinnige besluit te neem en pa in Ermelo te gaan haal. 

Ek haat die bliksemse plek.    

Dad, deesdae is pa net ‘n skaduwee en vergeet-se-siekte het aan pa se deur kom klop.  Pa sal feitlik niks onthou, van wat ek hier deel nie, en my vermoede is dat hierdie trauma juis daartoe bygedra het. 

Ek gaan kuier so gereeld ek kan, sit vir ‘n uur of twee, gesels in sirkels want ons herhaal ‘n paar keer dieselle goed.  Pa maak grappies en ons lag, maar die uitveer in jou kop het al die belangrike dinge tussen ons kom uitvee.  Ek laai pa nie meer in my kar en vat pa vir ‘n aand of twee na my huistoe nie, want pa herken nie my gesin nie.  Pa vergeet waar is die badkamer en pa voel ontuis.  Ek sukkel om te verstaan en my geduld skiet dikwels kort, maar ek try . . . ek skud die vrees, dat pa my dalk eendag nie meer gaan ken nie, van my skouer af en smile op my mooiste wanneer ek by pa se kamer instap en pa op die bed sien sit.  Wanneer pa opkyk, smile en sê:  ‘Haai Skattie’, bokspring my hart. 

Butterfly kisses soos in Bob Carlisle se song, was nooit vir ons bedoel nie, want een van die tough’ste dinge wat ek ooit moes doen, was om alleen die paadjie af te stap met my troue.  Jare terug het ek besluit dat ek nie pa s’n is om weg te gee nie, ek moes daarby hou, vir myself. . . Ons het nooit daaroor gepraat nie, pa het ook nie vrae gevra nie.  Ek glo pa het verstaan. . . maar vandag is ek in ‘n mate bly, want ek weet hierdie gedagte het verlore gegaan in die boksies van vergeet. 

DANKIE dat dat ek nog pa se Skattie kan wees.

Eendag as pa my dalk vergeet, sal ek myself kom voorstel as ‘n storie-verteller.  Dan sal ek al ons stories vir jou kom vertel, met gelukkige eindes waarin ons die verlede se plooie uitstryk en waarin pa se hallelujah nooit stil raak nie. 

Sommige gedates is gebede. Daar kom oomblikke wanneer ‘n mens se siel op sy kniee gaan, ongeag van wat die houding van die liggaam mag wees.      

Victor Hugo

8 thoughts on “Wanneer ‘n halleluja stil raak. . .

  1. Ai Carli, dit is beautiful geskryf!!
    Die lewe het julle ook maar n taai klap gegee. Ek onthou nog elke kuier in ermelo toe ons nog kinders was en as jy of Renelle ons spur toe gevat het en ons gestick het vir n Chico the clown. Die ‘good old days’ maak my sommer hartseer. Dit was die dae toe albei ons ouers nog saam was en ons min wetend en onskuldig was

    Like

  2. Ek kan nie hierdie like nie – dit sny net te seer. Hoe gekompliseerd is ‘n dogter en pa-verhouding soms? Ek tik en vee uit, want hoeveel maak mens oop van jouself hier op die internet. Laat ek dan maar volstaan deur te sê dat mens eendag wanneer jy jou eie kinders het en hulle groot is, besef dat elke ouer meesal net doen wat hy of sy kan, na die beste van hulle vermoë en soms fok hulle op, maar mens word net vry daarvan wanneer jy besef dat jy hulle kan vergewe en steeds lief het. Met foute en al.

    Liked by 1 person

  3. Ek lees jou vanoggend raak…en jy verwoord soveel van dit wat ons as dogters moes hanteer….die vrede maak met wat gebeur het. DIe leemtes wat agtergelaat is en gevul moet word. Ek weet net nie met wat vul mens dit nie….dankie vir hierdie deel van ‘n eina deel.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s