Die Boek, SO LYK ‘n VROU!
‘n Mede lief-lees-vriendin van my, het eendag vir my die e-book gestuur en later het Cindy my ook van hom vertel. (ek noem spesifiek haar naam, want jul sal ook ‘n stukkie van haar storie hier lees). Ek kon toe dus nie anders as om hom te gaan koop en te lees nie. ‘n Boek met blaaie wat jy in jou hande kan vashou, bly maar my voorkeur.
‘So lyk ‘n vrou’ . . . is die gru verhaal van Esli (Ilse) se jare van mishandeling deur haar narsistiese x man. Bart.

Wat ‘n ontnugtering? So ontstellend. So insiggewend. So hartseer. Ek dank die liewe Heer dat haar storie mooi geëindig het, anders sou ek darem maar baie vies gewees het. Ek is nou maar eenmaal nie iemand vir ‘n hartseer einde nie. Ek het nogal gesukkel om deur te druk en hom klaar te lees. Net soos met die twee Anna boeke en Huis van Gruwels. Hierdie dinge breek my brein. Maar ekt hom klaar gemaak en daarna het ek op facebook ‘n vinnige resensie geskryf, want ek voel vroue moet dit lees. Enige vrou, maar veral vroue wat vasgevang is in so sitsuasie en jonger vroue wat nog date en opsoek is na Mr Right. Die kommentaar op facebook, het my hare laat rys. Hoeveel vroue gaan nie hierdeur nie? BAIE BAIE. Sonder dat ons dit besef.
Ilse Verster, die skrywer van ‘So lyk ‘n vrou’, was vir 40 jaar vasgevang in ‘n nagmerrie verhouding en later huwelik van verbale, emosionele en fisiese marteling. Bart was die bloudruk van narsisme. Hy was geleerd, gerespekteerd en, lyk my, nogal ‘n charmer, want vroue het vir hom geval. Dit kan mens aflei uit die string verhoudings wat hy on the side gehad het. Van buite af, kon hy dalk vir ander na die typical Mr Right gelyk het. Hulle dra mos maskers, soos ‘n kulkunstenaar kan ‘n narsis soos Bart die hele wêreld ‘n rat voor die oë draai. Maar ook nie vir altyd nie.
Needless to say, hierdie boek, die kommentaar van ander ander vroue daarop en die stories van mense wat ek ken, het my kop laat maal en dit was die rede waarom ek voor my computer ingeskuif het en besluit het om iets te skryf oor vroue, mishandeling, narsisme, vals hoop en al die duidend dinge wat daarmee saamgaan. Ek moet ook net hierby sê, ek is nie ‘n kenner, huweliksberader, siener of professional nie. Ek is ‘n gewone vrou en ma, wat dink soos ander vrouens en ma’s. En dinge soos hierdie rattle my ook, nes vir julle.
Ek was self op ‘n tyd deur emosionele mishandeling. Vasgevang in ‘n verhouding waar drank en later pornografie dikwels sy eerste liefde was. Die gil en skree, die vernedering, die vrees wanneer hy begin slinger en ek op eiers moes loop. Die spanning wanneer ek niemand kan kontak nie, omdat hy my selfoon teen ‘n muur stukkend gegooi het. Die remme wat skree wanneer hy kwaad raak, in die kar spring en wegjaag. Die laat aand wakker lê en worry. Die leuens en ongelukke. Soveel nagte het ek alleen in die bed gelê en wonder, ‘Wat doen jy hier, Cam?’ Hoekom pak jy nie net jou goedjies, vat vir Febi (my geliefde gemmerkat) en move nie?
Die waarheid is, ons het begin uitgaan toe ek 17 jaar oud was. Ek was nooit net ‘n EK nie. Ek was altyd deel van ONS. Ek het eintlik nie geweet hoe om net EK te wees nie. Ek was bang om alleen te wees en ekt nie geweet hoe ek finansieël sal cope nie. En hierdie is baie vroue se probleem of vrees, hul weet nie hoe hul op hul eie sal leef en survive nie, of sommiges klou net vir te lank aan die hoop vas dat dit sal verander. Die Here het geweet ek sou nooit die guts hê om te loop nie, selfs al het ek baie keer gedreig. Veral wanneer ek in die middernagtelike ure in my kar geklim het en na my suster-hulle toe gevlug het. Daarom dat hý my toe op die einde gelos het. My sitsuasie kan nie regtig vergelyk word met Ilse se storie nie, want hyt nooit sy hand vir my gelig nie. (Hy kan bly wees.) Maar my storie was my waarheid en op daardie stadium, was dit my lewe en dit was vir my erg, want ek was tog regtig lief vir hom. Die goeie tye was baie, maar die slegte het die goeie begin versmoor.
Nie lank na die finale break-up nie, het ‘n totale vreemdeling een keer vir my gesê: This was not an attack from Satan, this is an act of God. Vandag weet ek, die Here se planne vir my, was voorwaar beter as wat ek ooit sou kon dink. Ek kon vergewe, ek kon nee sê toe hy my later weer wou terughê. Ek en hy is nou op ‘n heel gemaklike voet, wat op verjaarsdae vir mekaar geluk sê en so aan. Sy lewe het ook verander en hy is gelukkig getroud. Ekt besef, hy is ‘n nice ou, hy was net nie MY nice ou nie. Ek en hy was nooit bedoel nie. Maar ons verhouding en dit waardeur ek is, het my geskaaf en gevorm. Ek sou nie gewees het, wie ek vandag is, as ek nie lesse geleer het, uit die 9 jaar saam met hom nie.
As hierdie dinge my nie ‘n beter mens gemaak het nie, was dit all in vain. En my grootste wens is dat mense hierdie ter harte sal neem. . . As jy nie iets goeds uit ‘n slegte sitsuasie of ervaring kan vat nie, is dit al wat dit was: ‘n Slegte ding. As dit jou denkwyse kom verander, jou siening vernuwe, jou vul met empatie, jou ‘n dieper understanding kom gee van mense en hul dinge, verryk dit jou lewe en was dit nie als verniet nie. Baie mense se stories verander hul so, dat hul motiverings praatjies begin lewer. Hul raak dan ‘n baken van hoop vir ander. Party vroue wat uit ‘n huwelik van mishandeling wegstap, draai uit as kampvegters vir vroue regte en ons het dit ook nodig. Soos met enige iets in die lewe moet ons altyd probeer om iets positiefs daaruit te haal. En al word jy nie ‘n kampvegter of spreker nie, is jy dalk net eendag op die regte plek en regte tyd, vir iemand anders ‘n lewens boei.
Hoe-dit-ookal-sy . . . Ons moet nooit ons stories met ander s’n vergelyk nie. Ons kan net aanklank vind by iemand anders se storie, omdat ons deur iets soorgelyks gegaan het. Hartseer en swaarkry, is mos nie ‘n kompetisie nie.
Geslagsgeweld neem toe. Die koerante is vol daarvan. Net nou die dag was sosiale media vol videos van Jaco Swart, die windgat tweedehandse car salesman van Pretoria wat sy pragtige jong vrou so gekarate het. Die fotos van haar blou oë, het die hele Suid Afrika aan die gons gehad. Ekt by myself gedink, geen vrou moet so lyk nie. Jaco was op almal se tonge en die manne wou hom bykom.
Daar is baie meer Jaco’s en Bart’s daar buite as wat ons besef.
Vroue fight dikwels hierdie dinge alleen, is skaam om daaroor te praat, steek dit weg en kruip weg vir die wêreld . . .
Cindy
Met haar toestemming, deel ek met julle, ‘n stukkie van haar storie.
Cinna, my jare lange vriendin, na wie ek dikwels verwys as ‘my person’ of ‘my sister from another mother’, het eintlik nog nooit ‘n maklike lewe gehad nie. Moeilik grootgeword, maar hierdie dinge kon nooit haar spontaniteit, liefde vir die lewe of joy steel nie. Dis juis wat my en haar op so ‘n ongelooflike diep level laat click het. Oh, how I love her!!!!
Direk na matriek raak sy swanger en Zonika word in 2001 op erfenisdag gebore. Pragtige klein poppie. Miskien het die tyd nie reg gevoel nie, maar vandag weet ons, in soveel opsigte het sy haar ma se saving grace geword. ‘n Stukkie wat die wêreld eendag van haar sal erf, haar eie dogter. Mooi, slim, uitgesproke, sag tog sterk, selfstandig en op ‘n jong ouderdom – wise beyond her age. Nes haar ma.
Begin 2005 verloor sy haar pa, selfmoord. . . En alhoewel hierdie ‘n bitter bitter moeilike tyd was, hou sy vandag nog vas aan sy bundel vol gedigte en put vrede uit die hartsgeheime, diepte en wyshede wat hy daarin ‘met haar’ deel. Hoe sou sy ooit met die dood van haar pa kon raai, dat dit nie die moeilikste ding was, waardeur sy in haar lewe sou moes werk nie.
Einde 2005 trou hulle uiteindelik en in Maart 2007 maak Zander sy opwagting. Sy pa se bul en sy ma se oogappel. Zonnie sy kleinboetie. Vandag ‘n fris jong hoërskool seun, wat die girls se knieë lam maak, in die gym uithang en uitblink in rugby.
Alhoewel ons ‘n baie baie hegte verhouding het, was dit asof sy met tye net heeltemal wegraak het. Ek kon dit nie altyd verstaan nie, en op my eie – in hindsight, selfsugtige manier – was ek teleurgesteld in haar. Vir my, was sy nog altyd die verpersoonliking van ‘n sterk vrou, dus was dit vir my ‘n groot skok toe ons weer kontak maak en sy teenoor my oopmaak.
Syt ook hierdie paadjie geloop. . . Alleen.
Die giant in hul huwelik was dwelm verslawing. Sy moes toe kyk hoe die besittings in hul huis minder word en ‘wegraak’, hoe Nigeriërs in die straat voor hul huis sit en hul dophou. Hoe haar man weggeraak het, net om ‘n paar dae later êrens langs die pad gevind te word, gedehidreed, gedisoriënteerd, geslaan en verniel deur dwelm pushers.
Watse tipe man druk ‘n vuurwapen onder sy ken en sê vir sy vrou . . . ‘Kom sit en kyk, dan sal jy weet hoe jou pa gelyk het’
If I only knew. . . dan het ek in my blou tjorrie geklim, Bloem toe gery en julle kom haal.
Hul sê mos, ‘n vrou is altyd die laaste een om uit te vind, maar daar word ook gesê, ‘n vrou op ‘n missie, doen beter speurwerk as die FBI. Syt goed geweet van talle verhoudings, selfs sy verhouding met een van haar eie susters. Maar vir lank het sy verduidelinking oor hoekom hy nie opstaan en regmaak om werk toe te gaan nie, haar laat wonder. ‘Nee Mev, hy werk al ‘n hele rukkie nie meer hier nie’. Soveel leuens en alles is jou skuld. Hy vat nie die blaam vir enige iets nie. Bloudruk van ‘n narsis. Smeek en huil help nie. Verslawing is hul baas en dryfveer. Jy veg teen iets, waaroor jy glad nie beheer het nie.
Hoe funksioneer ‘n mens in so huis?, het ek al vir haar gevra. . . Cam, mens doen nie regtig nie. Mens leef in ‘n waas, loop op eiers, wag vir die volgende episode wanneer jy verkeerd trap en die woorde en houe soos sweepslae val. Dan trek jy maar ‘n langmou hemp aan, grimeer goed en gaan werk. Want jou werk is die huis se enigste inkomste. Intussen probeer jy ‘n ma wees vir jou twee pragtige kinders, maar dikwels is ‘n eenvoudige takie soos wasgoed was en kosmaak vir jou kinders, net te veel . . . mens cope nie. Jy pak jou huis op, want jul moet alweer trek. Mens raak stiller en mens verloor jouself. Jou sirkeltjie word so bitter klein. Familie draai hul rue op jou, want wie wil nou glo dat hul seun en broer die pad so kwyt geraak het?
MAAR eendag is eendag. . . Dan word die probleme te groot om weg te steek. Die ontnugtering wanneer jou bankkaart wegraak en jou rekening waarin jou salaris sopas betaal is, leeggetrek is. Zander en Zonika moet skoolgaan, huur moet betaal word, ‘n mens moet eet en leef. . . maar hierdie is nie ‘n lewe nie.
Die probleem het nie weggegaan nie, maar die Here het haar krag gegee om haar kinders te vat en weg te stap.
‘n Getuienis van groot genade.
‘n Profesie wat waar geword het.
‘n Lig het na soveel donker, uiteindelik aangekom.
‘n Verlede vol een-ry-voetspore.
‘n Storie van vergewe.
Hierdie het nie maklik gekom nie en daarop gaan ek nie uitbrei nie. . . maar vandag is daar weer ‘n vonkel in haar oë. ‘n Dieper, wyser en sterkter Cindy het my gegroet toe ek haar onlangs weer gesien het.
DANKIE Here!!!
Zonnie en Zander, ek hoop julle weet, julle was haar rede om te lewe.
Dankie Juan, dat jy vir haar lief is, soos wat sy nog nooit geken het nie. Julle is meant to be. Ek glo dit met my hele hart.
CINDY, as daar een mens is, wat ‘n mooi einde en liefde in oorvloed verdien, dan is dit JY!!!
Dankie dat jy my vertrou om hierdie stukkie van jou storie te kan deel. Mag die verlede jou nooit terughou nie. It was never about you, it was all about him.
Mag jou storie hoop bring vir vroue wat veg teen die duiwels wat dreig om hul lewens te verwoes.
Mika
‘n Dag of twee nadat ek my opinie oor die boek op facebook gedeel het, whatsapp Mika my. Mika is die ma van my goeie vriend, Gianni. Gianni was op ‘n tyd in my lewe, my ‘beskermheer’ en rots. Hy is ongelukkig die 26 ste Julie 2011 op die ouderdom van 34 in ‘n motorongeluk oorlede.
Ek het nooit vir Mika geken nie, en tot nou toe, nog nooit ontmoet nie, maar ekt haar deur sosiale media gaan opsoek na Gianni se dood en ons het dikwels op mekaar se skouers gehuil. Deur die jare het ons kontak gehou en kan ek haar ook ‘n vriendin noem. Alhoewel sy natuurlik in ouderdom, my ma kon wees. Ouderdom tel mos nie altyd nie.
Gianni het my nooit van sy kinderjare of familie vertel nie, maar ek het geweet hyt ‘n broer, ‘n half suster en dat sy ouers geskei is.
Mika begin deur vir my te sê; ‘Carli, I cannot read this book, I will get sick from it, cause the same happened to me. Gianni’s dad, broke me into pieces, and my sons had to pick me up and put me back together’. Sy vertel toe vir my haar hele verhaal.
Whaaaat??? Ek kan dit nie glo nie. Nog ‘n vrou wat hierdie pad moes stap.
Sy en Jimmy (ek wil graag sy regte naam hier noem, maar in hierdie stuk, noem ons hom eerder Jimmy) is op ‘n baie jong ouderdom getroud. Ek reken hy het vir haar soos Mr Right gelyk. Humble beginnings, want hul het nie veel gehad nie. ‘We had pine furniture’, deel sy die storie met my. Sy praat engels, die trotse Italiaanse vrou wat sy is, en ek praat in my Boertjie engels. Maar ons verstaan mekaar.
Saam het hulle ‘n empire gebou. Het sy haar hande blase gewerk en haarself afgesloof, in hul eerste eie besigheid. Wat later uitgebrei het en meer en meer geword het. Vooraanstaande, goeie, super winsgewende besighede het vinnig gevolg en gegroei. Nie lank nadat hul rykdom begin vlam vat het nie, het hy ‘n verhouding met ‘n vrou aangeknoop wat vir hom gewerk het. Saam het hulle ‘n kind. (terwyl hy en Mika nog getroud was) Gianni en Claudio se halfsuster. Almal in die dorpe waar hy besighede het, het die wêreld van hom gedink. (almal behalwe die wat in sy binnekring beweeg het en geweet het dat hy ‘n opperste narsis is) Jimmy is so suksesvol en so ‘driven’, so goeie sake man. Ek moes self daai tyd hoor, hoe goeie besigheidsman hy is. ‘As long as he could take from you, you were good. If you could not give any more, then you were cast away like a dog’
Min wetend, by die huis, verniel Jimmy sy vrou. Vir 21 lang jare, was sy sy slaansak en slaaf. Nie net fisies nie, maar ook emosioneel. Die proses van afbreek gebeur nie oornag nie. Stukkende plekke word gesond, ribbes groei weer aan, kneusplekke gaan plak soos blou eyeshadow om jou oë, maar genadiglik word dit weer gesond. Dis die letsels wat aan jou menswees kom klou, wat soms nie heel nie. Die stille Mika het net stiller geword, meer in haar dop gekruip en gesorg dat sy uit die publieke oog bly. Sy het erken dat sy later ‘n verslawing ontwikkel het vir pynstillers, a numbing agent. I don’t blame her. Hoeveel keer moet mens hoor hoe sleg, swak en useless jy is, voordat jy dit self begin glo?
Ek verstaan nie, hoe ‘n man dit aan sy vrou kan doen nie, die ma van sy kinders. Hoe doen énige iemand dit aan iemand anders? Sy eie seuns moes hul ma een keer, soos ‘n baba in ‘n kombers toedraai, haar in die kar laai en na haar omsien. ‘Gianni saved my life’
Hoekom het sy nie vroeër geloop nie? Want syt gehoop. . . ‘I was hoping that he would turn from his ways’. Dit was immers nie die man met wie sy getrou het nie. Mense verander. Geld verander mense. Of party mense hou net ‘n front voor.
Gelukkig het haar storie ook ‘n goeie einde. Sy leef al vir jare op haar eie en alhoewel sy steeds sukkel met vergifnis, het sy vrede. Haar huwelik met Jimmy, het haar verander, het haar beroof van mooi jong jare, maar dit het haar ook sterker gemaak. Haar wêreld draai rondom Claudio, en sy gesin. Haar kleinseun is haar saving grace na Gianni se dood en saam leer hulle hom, om altyd humble en gentle te bly, nes sy Oom en Pa.
Ek het net ‘n kort stukkie van Mika se storie vertel, nie omdat dit ‘n kort storie is nie, maar omdat ek spesifiek die mishandeling hier wou vaspen. Nes ek, glo Mika dat vroue moet leer om vir hulself op te staan, maar ook dat jong vrouens gewaarsku moet word en moet leer om uit te kyk vir die gevaartekens. Mense soos Jimmy voel net powerful, solank as wat hul iemand anders kan beheer, verkleineer en verniel. Wanneer almal teen hul begin opstaan, of die slagoffer wegstap, het hul nie meer daardie power nie. Dit gaan nooit oor jou nie, dit gaan alles net oor hulle.
Daar is hoop, soms soek mens net vir hoop op die verkeerde plek. Soms is die braafste stap nie net om weg te stap nie, maar om weg te stap EN deur die trauma te werk, dit sodoende agter jou te sit, te vergewe en aan te beweeg. Onvergifnis, maak mense siek. Daarom dat God is sy woord sê vergifnis maak mens vry. Ons beleef dit ook in Ilse se verhaal.
My vraag is, hoeveel vroue moet nog sulke stories aanhoor, voordat hul sal besef, 21 jaar is te veel en 40 jaar is onmenslik baie? Bitter min vroueslaners verander. Jy kry nie ‘n toekenning vir uithouvermoë nie. Hierdie is nie jare wat jy kan terugkry nie. As die sekond wyser ge-tick het, is daai sekonde vir altyd verby. Weke word maande en maande word jare. . . Ons lewens word opgemaak deur tyd. . . As jy tyd op die verkeerde plek of in die verkeerde verhouding spandeer, verloor jy ‘n stuk van jou lewe of jy verloor jouself.
Moet asseblief nie dink, dat ek ‘n voorstaander is van egskeidings nie. Dit bly sleg en dit bly moeilik. Dis ook nie ‘n besluit wat ligtelik geneem moet word nie. Waarvan ek wel ‘n voorstaander is, is gesonde gesinne. Te veel keer bly mense in toxic huwelikke, ‘ter wille van die die kinders’. Meneer of Mevrou, jou kinders gaan begin dink, dis hoe ‘n huwelik moet lyk. Dis beter om groot te word, in ‘n vredeliewende huis met net een ouer as in ‘n huis met altwee ouers, waar daar nooit vrede en liefde heers nie. Kinders mag nooit dink, om iemand ‘n blou oog te gee, af te breek, te verkleineer en rond te stamp is die regte manier om verskille te hanteer of gesag af te dwing nie. DIS NIE HOE ‘N VROU MOET LYK NIE!!!!
Statistiek Suid-Afrika 2021 bevestig dat 21% van die vroue in ons land deurloop onder geweld en mishandeling. Dit wil sê 1 uit elke 5 vroue wat verby jou loop in die straat, is slagoffers van geslagsgeweld. En hierdie is slégs bevestigde gevalle. Duisende word nie opgeteken nie, want vroue gaan lê nie noodwendig ‘n klag nie. Ek glo dit is deels omdat hul hulself verdere vernedering wil spaar, omdat hulle bang is vir die oortreders (dikwels hul eie man) en heel moontlik omdat hul nie krag het vir ‘n hofsaak en die rondslomp tussen polisie stasies, verklarings en dies meer nie. As jy een van die 4 is, you can count yourself lucky. Gaan sommer vanaand op jou knieë en sê dankie. Ek besef maar alte goed, soms is mans die slagoffers, maar omdat ek nog nooit met so ‘n man te doen gehad het-, of gesels het nie, kan ek my nie daaroor uitlaat nie. Ek ken nie sulke wille katte nie. Gelukkig.
Soos met baie probleme in die lewe (baie, nie almal nie), is die oorsprong hiervan, dikwels in ons eie huise. Kinders maak nie soos ons sê nie, kinders maak soos ons maak. Miskien moet ons onsself die vraag vra . . . Het my kinders die regte voorbeeld? ‘n Seun moet by sy pa leer, wat dit is om die hoof van sy huis te wees. Ons moet seuns grootmaak wat nie net weet hoe om konflik en probleme te hanteer nie, maar ook hoe om ‘n vrou te wardeer, te respekteer en lief te hê. In God se woord, gee Hy die manne instruksie om hul vrouens lief te hê. Nêrens word daar gesê dat vrouens hul man MOET liefhê nie. ‘n Vrou se liefde vir haar man, is ‘n reaksie op sy liefde vir haar. Dis maar net hoe ons bedraad is . . . Daarteenoor, moet ons dogters grootmaak wat hul waarde ken, goeie gesonde besluite neem en wat vir hulself kan opstaan. Hulle sê mos, dis beter om ‘gesonde’ kinders groot te maak, as om grootmense te probeer ‘gesond’ maak.
Cindy sê, vroue moet leer om meer grace met mekaar te hê, want op ‘n manier fight almal maar een of ander battle. WEES ‘N GOEIE VRIENDIN, ontwikkel ‘n ingesteldheid vir ander vroue, wees ‘n sagte landing, luister sonder om te oordeel, gee raad en motiveer. Die besluit om weg te stap is nie joune nie, maar wanneer iemand weet dat daar ‘n vangnet is, is die besluit dalk makliker. En BID!!! Bid vir jou mede Eva’s in distress.
Daar is baie mans soos Bart, Jaco en Jimmy daar buite, maar daar is ook baie Ilse’s, Mika’s en Cindy’s tussen ons en ek is bevoorreg om van hierdie sterk vroue te ken.
Ooral waar ons loop en leef, los ons stukkies van onsself. . . maar dis erg om jouself êrens langs die pad te verloor, alhoewel dit nie onmoontlik is om jouself weer op te tel en aan te gaan nie.
Aan my eie man; Dankie My Venter, dat jy my liefde wen, oor en oor!

Waar kry n slagoffers van geslagsgeweld hulp?
(BRON: So lyk ‘n vrou deur Ilse Verster)
Lys aangeheg.
Sjoe, dankie vir jou artikel en dat jy die dinge so raak vat. Sjoe jy kan skryf, jy oefen nie. dit is goed om te hoor hoe lesers die boek ervaar en ook van ander vroue se ervarings te hoor. Dankie vir insig, wysheid en die wil om die lig vir vroue daar buite aan te gee. Beste Groete. Ilse Verster
LikeLike
Dankie Ilse, dat jy die tydjie geneem het om hierdie te lees. VROUE soos jy, gee ander hoop. Mag die Here deur jou, nog duisende ander vroue raak en inspireer. BLESSINGS.
LikeLike
Pragtige skrywe. Goed raak beskryf. Soos ek gelees het, het hele paar name wat ek ken by my opgekom. Dit is hartverskeurend. Jy is n ystervrou met n baie sagte hart. Lovies Elna
LikeLike
Dankie El. . . JA, sad ne. Ons almal ken iemand, want 1 uit 5 is baie, te veel. Liefde daar xxx
LikeLike
Dit het met my ook gebeur
https://bondelsgedagtes.wordpress.com/2022/06/28/hoe-gebeur-dit/
LikeLike
Jissie, ek kry sommer hoendervleis, want vandat ek gister my blog ge-publish het, het ek seker van nog 4 dames gehoor. . . Kennisse. Dit is ongelooflik hartseer.
Ek hoop jy het die krag gehad om weg te stap en dat die Here jou gedra het deur die groot genesingsproses. Laat bietjie van jou hoor.
Liefde
Carli
LikeLike
My liefste Cam.
Ek het nou vir die eerste keer hierdie blog van jou hier kom lees na jy dit vir my gewhatsapp het, en toe huil ek sommer weer lekker. Dankie vir jou raak beskrywing en dankie dat jy my storie so mooi geeindig het want in soveel opsigte begin my lewe eers nou eers.
Jammer dat ek somtyds so verdwyn het, maar dit was maar my manier van cope, maar dit gaan nooit weer gebeur nie, want ek het UITEINDELIK ook my somer seisoen bereik en gaan ek nooit ooit weer nodig he om mure om my te bou nie!!
Ek is BLESSED beyond meausure
Ek is werklik baie lief vir jou❤️❤️❤️
LikeLike
Beste Cam Baie dankie hiiervoor. Ek waardeer elke stukkie terugvoering wat ek kry. Dit gaan baie goed met my, en met So lyk ân Vrou. Ons is tas oppad na ân sesde herdruk en my lewe het ontplof sedert die verskyning. Ewe skielik is ek sommer ân Motiveringspreker en het so pas in Bloemfontein op die Vrystaatse Kunstefees vir die 40 ste keer oor die boek gepraat. Beste Groete Ilse Verster Sent from Mail for Windows From: Sagte KlippeSent: Saturday, 23 July 2022 14:16To: ilse.verster59@gmail.comSubject: [New comment] Te veel eyeshadow Cindy commented: "My liefste Cam. Ek het nou vir die eerste keer hierdie blog van jou hier kom lees na jy dit vir my gewhatsapp het, en toe huil ek sommer weer lekker. Dankie vir jou raak beskrywing en dankie dat jy my storie so mooi geeindig het want in soveel opsigte "
LikeLike
Baie dankie vir die terugvoering. Ek waardeer elke persoon wat laat weet dat hulle die boek gelees het en dat dit ‘n verandering in hul lewe gemaak het.
LikeLike