Nommer 40 Vellies

Toe ek klein was, het ek gedink mense van 40 is oud. . . en WOW, kan jy nou meer. . .  hier is ek nou.

Vreemd genoeg, sit die gedagte my glad nie af nie. . . Inteendeel, dit bring ‘n nuwe tipe gemaklikheid met jouself.  En hierdie gemaklikheid maak ouer word, lekker. Ek sou sê, as mens die grys hare kan wegsteek is 40 eintlik die nuwe 30.

Die afgelope jaar, na my Dad se dood, het ek niks geskryf nie, dit was net asof my begeerte om iets met kreatiewe woorde op papier neer te sit, die pad gevat het. . . maar soos met elke seisoen in die lewe, kom daar weer sonskyn na reën, lente na winter en word ‘n steilte tog weer êrens gelyk.  En besides dit, is my kop vol spinnerakke. 

Ekt vir lank gesit en wonder hoe ek hierdie web van gedagtes bymekaar gaan bring, om iets sinvols daarvan te maak. ‘n Kennis van my vra toe nou die dag op Facebook – en miskien het ek nou nie die presiese woorde nie, maar dis in die lyn van: Is dit wat mense op Sosiale Media plaas, ‘n ware weergawe van hulself?

HIERDIE vraag het al die los drade in my kop, kom saamvat en die perfekte wegspringplek geword vir ‘n nuwe skryfstuk. 

Dit het my laat wonder. . . Nie net oor ander nie, maar meeste oor myself.  Ek het deur my eie blad begin ‘scroll’, so ver as wat ek kon.

Wow, what a journey? 

Dit was soos om ‘n kortverhaal van my eie lewe, die afgelope 17 jaar, te lees.  Inskrywing na inskrywing. . . Herinneringe, fotos, liedjies, lief en leed.

Ekt gelag, gebloos, verlang, gehuil en soms in verwondering gestaan . . . Ekt besef, wie en wat jy is en hoe gemaklik jy met jouself is, het eintlik bitter min te doen met hoeveel verjaarsdae jy al gevier het, maar veel meer met die paaie wat jy al geloop het en hoe dit jou verander het.  Mens groei in moeilike sitsuasies, wanneer iets jou druk, soos ‘n hemp wat te klein word, en jy geen ander uitkoms sien as aanvaarding of verandering nie. Dikwels verandering in jouself. 

Ons is almal oppad na dieselfde bestemming, maar nie een van ons loop dieselfde roete nie.  Niemand se roete is sonder klippe, afdraaipadjies of struikelblokke nie en omdat ons so uniek is, ervaar almal die reis anders.     

Ek kan op 40, in alle eerlikheid sê, ek ken myself, al my sterkpunte en swakhede.  Ek het nie engelvlerke nie.  EK is EK en ek is EG . . . Life happened . . . Elke dingetjie, seisoen, verandering, hartseer, groot gebeurtenis, what-you-may-call-it . . . het bygedrae tot die mens wat ek sover is. 

Ek is van genade aanmekaar gesit.

Ek is ‘n mens met ‘n opinie. 

Ek is kontroversieël.

Ek love lag, soms ook vir die stupidste goed.

Ek raak bemoerd.

Ek hou van filosofeer en ek redeneer graag oor iets.

Ek is ‘n diep denker.  

Ek is eerlik en reguit, ek raak opgewerk en opgewonde.

Ek is passievol oor goed wat my na aan die hart lê. 

Ek is beginsel vas en ekt goeie morele waardes.

Ek is swart en wit, maar nie sonder ‘n bietjie grys nie.

Ek verwys dikwels na myself as ‘n Moses, want as ek myself moet vergelyk met iemand in die bybel, is ek seker die tipe wat eerder die rots wil slaan of soos Petrus, Malgus se oor afkap. . . maar ek weet, genadiglik, is daar ‘n plekkie vir mense soos ek. God slaan mos reguit houe met ‘n krom stok.

Alhoewel ons nie noodwendig beheer het oor al die paaie op ons roete nie, is daar ‘n duisend keuses en besluite langs die pad, en hoe jy daarop reageer, sal bepaal hoeveel en hoe jy groei/vorm.  Die eind doel is om die beste weergawe van JOUSELF te word.

Ek het ‘n liefde vir vellies, want vellies is durable en deesdae is vellies ook mooi en mens kry dit in al die kleure van die reënboog. Ek het 2 of 3 gunsteling pare, want sommiges dra net lekkerder as ander.  Om vellies dus in hierdie stuk as ‘n metafoor te gebruik het sin gemaak en ek glo jul sal verstaan. 

Ek dink, met die regte paar skoene, kan mens oor berge en deur dale loop. . . Wanneer die pad vir my klipperig raak, trek ek vellies aan.  Wanneer die swart hond dreig om jou te volg, trek jou hardloopskoene aan.
Vir my, kom gepaste skoene in die vorm van geloof en gebed, ‘n stille alleen tydjie, ‘n innerlike dryfkrag, ‘n dam vol trane en soms ‘n oproep na ‘n vriend/in.  My klip-pad-skoene is geweef uit ‘n bietjie van al hierdie dinge en vasgegom met baie genade. As die skoen jou pas, trek hom aan.

Tussen verjaarsdae deur, kom mens êrens langs die pad, op ‘n punt waar mens besluit dat dit-of-dat nie meer vir jou werk nie, dat jy sekere dinge nie hóéf te doen- of aanvaar nie. Jy stap vinnig weg van iets wat jou vrede steel, blaai die bladsy om en talm nie by ‘n kruispad nie. Jy voel nie meer dis nodig om jouself te verdedig of te verduidelik nie. Om iemand te probeer impress of jouself te bewys, is ook nie meer ‘n ding nie. Jy is nie bang om ongewild te wees nie. Mens sit jou voet makliker neer, omdat jy weet, alhoewel jy nooit ander se opinies heeltemal kan afskryf nie, verander ander se opinies oor jou nie regtig jou lewe nie.

Hoe dit ook al sy, niemand kan die roete vir jou loop nie en jy kan nie in ‘n ander ou se skoene stap nie, nie eens vir een myl nie. Moet nooit jou pad met dié van ‘n ander vergelyk nie, want selfs al gebeur soortgelyke dinge met ons, ervaar ons dit nie dieselfde nie, ons verwerk dit nie dieselfde nie en ons kom nie dieselfde anderkant uit nie.  Wat vir my soos ‘n struikelblok voel is dalk vir iemand anders net ‘n steppingstone en andersom. Ons moet ‘n ingesteldheid aanleer vir mekaar se opdraandes. Eerder ‘n klip vir hul uit die pad rol, of ‘n hand uitreik, as om te maak asof ons weet waardeur iemand gaan. Overall lê die geheim daarin om iets uit moeilike lesse te leer, want dis wanneer ons groei. As iets moeiliks oor jou pad kom en gaan, sonder dat dit ‘n impak maak, was dit all in vain. 

Net die naweek sit ek en gesels met iemand wat die afgelope paar jaar deur kanker, ‘n egskeiding en depressie moes werk.  Eks trots op jou.  Dit het haar verander, ‘n vars uitkyk gegee en ‘n better understanding of herself. En ek besef net weer, niemand groei in ‘n comfort zone nie. Never curse your cricis.  Elke roete, ongeag hoe die oppervlak lyk, het mooi dinge langs die pad. Selfs ‘n koue winter is nie net sleg nie. Trek jou pantoffels aan. Ons moet kies om op die mooi in alles te fokus. 

Dis nooit aanvaarbaar om te sê, ek is so gemaak en so gelaat staan nie, want as mense bly ons maar almal ‘n langtermyn projek.  Deurgangs moet ons onsself wíl verbeter om daai beste weergawe van onsself te word, iets waaraan ons moet/kan werk, ongeag hoe oud jy is.  There is always room for improvement. Kyk nou maar vir my, ek werk al vir jare aan my geduld meter en ek sukkel steeds.  Ek sukkel ook om teleurstellings te verwerk en ek het male sonder tal, die VERTROUE-toets gedruip. Miskien omdat ek graag wil glo, mense se intesies is suiwer, hul woord is hul eer en hulle is lojaal. Vir hierdie rede is my sirkel groot, maar my vriendekring klein.  Ek loop lig. 

Wat ek wel geleer het, is om nie ‘n wrok saam my rond te dra nie, want ‘n wroksak is ‘n swaar ding en die ekstra gewig maak ‘n opdraande pad nog moeiliker.   

Uit my inskrywings op facebook, is dit duidelik dat daar ‘n onmisbare ondeundheid my volg, wat nog altyd deel uitgemaak het van wie ek was, steeds is en seker altyd sal wees.  Ek sien dit as ‘n lifeline. Miskien is dit juis dié eienskap wat my help om nooit ‘n slagoffer mentaliteit aan te neem nie, maak nie saak hoe klipperig my pad al was nie.  En dalk is dit ook die rede dat ek – in my eie kop – nooit oud word nie. 

40 kom vir seker met ‘n nuwe tipe uitkyk, ‘n 20/20 visie. . . Dis amper soos daai gunsteling paar skoene in jou kas, hulle is dalk nie die mooiste nie, hulle is oud, maar jy weier om hulle weg te gooi, want hulle dra so lekkerrrrrr.  

Ongetwyfeld, het die bekende vers in Jeremia 29 ‘n realiteit in my lewe geword. God is genade en planne vir my, was/is soveel groter en beter as wat ek ooit sou kon droom. Nie sonder stampe en stote nie, maar wanneer ek ‘n terugblik kry in my lewe tot nou, oorheers ‘n gevoel van absolute dankbaarheid, bietjie nostalgie en ‘n groot bewys van groei my.

Miskien skryf ‘n wyser Carli, voor haar 50ste verjaarsdag weer so stuk.

Miskien het ek dan al vrede gemaak met die gryshare.

Miskien bereik ek die einde van my roete tussen 40 en 50. . . en is my reis voltooi. 

Hoe dit ook al sy . . . my vertroue in Die EEN wat my lewe in Sy hande hou, is rotsvas. Ek weet ek stap nooit alleen nie en ek pak my vellies in, waar ookal ek gaan. . . maar vir nou, trek ek eers my partytjie skoene aan, want 40 moet gevier word!!!

As jy, soos ek, op die drumpel staan van ‘n nuwe fase in jou lewe;
Mag jy die krag in jouself vind, sodat harde klippe, sag word . . . Mag jy elke nuwe fase van jou lewe omarm en verwelkom. . . Mag jy groei en die beste weergawe van jouself word. Mag jy omring wees met nommerpas vriende en geliefdes om moeilike paaie, makliker te maak.
Mag genade jou volg.
Love it, Hate it . . . But EMBRACE IT !!!

cv

2 thoughts on “Nommer 40 Vellies

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s