Ouerskap soos radyse . . .

Ek wil bitter graag iets oor ouerskap skryf, maar eintlik weet ek nie hoe om te begin nie, ek tik en vee weer uit, oor en oor.  Hoe kies ‘n mens die regte woorde, om dit wat jy wil oordra, mooi te laat klink?  Hierdie is nie ‘n mooi storie nie, dis eintlik soos die spreek woordelike broer in die tronk, waaroor mens nie wil praat nie . . .

Imagine . . . As een jarige word jy by ‘n kinderhuis afgelaai. In die kinderhuis is jy een van ‘n groepie kinders wat gemolesteer word. Op 26, kontak jou biologiese ma jou en oorreed sy jou om na haar toe te trek, want sy wil graag ‘n verhouding met jou bou.  Toe jy by haar aankom, word jy ontnugter deur die feit dat sy getroud is met ‘n ander tannie en dat sy ‘n hoë priester is in satanisme.  Sy dreig om jou vir seks aan ander mans te verkoop, as jy nie haar geloof aanneem nie.  Jy besluit om jou eie lewe te neem. . . Genadiglik het God daardie dag ‘n streep kom trek en gesê;  ‘Hier gaan jou storie nie eindig nie’. En kon ek etlike ure later oorkant hom sit en na sy storie luister.

Glo jy dat realiteit erger is as fiksie?  Dit is. 

In 2017 word Suid-Afrika geskok deur die storie van Poppie van der Merwe.  ‘n 3 jarige, blonde kop, blou oog dogtertjie wat dood geskop en geslaan is.  ‘Op die dag van haar dood, wou sy niks eet of drink nie, het sy net gelê’ sê haar ma in die hof.  

My bloed kook sommer van voor af. 

Liewe Ouers!!!

Ek dink, die droom om kinders te hê, is nogal ‘n everyday droom.  Almal wil nou nie noodwendig kinders by dosyne hê nie, maar ek glo die meeste van ons het al in die winkels verby babakleertjies geloop en gestop om te kyk en dan imagine ons . . . En in ons gedagtes, kry hierdie klere, ‘n lyfie wat daarin pas, ronde bol wange, groot blink oë, krul hare, en pof handjies wat jou aan die hart kom gryp. . . Daars ‘n diepe begeerte in elkeen van ons om iets, wat ons ons eie kan noem, te vertroetel, lief te hê en te wil sien groei of ontwikkel.  Dit gee ons lewens ‘n doel en ons voel, ons los iets in hierdie wêreld van onsself agter, as ons die dag nie meer hier is nie. Baie vind dit in hul liefde vir ‘n vier-poot-kind, en dit is vir hulle genoeg.  Dis normaal. 

Dogtertjies leer van kleins af om pop te speel, of ouers koop vir hulle kinders ‘n baba hond of katjie, dan word die dingetjie toegedraai en rondgedra, soos ‘n regte egte baba.  Selfs kinders het hierdie ingebore begeerte. . . maar dikwels hou hierdie nuutjie net vir ‘n ruk, dan is Fluffy ook maar ou nuus.

Die bittere hartseer is, dat mense nie altyd besef wat die impak van ‘n regte egte baba, in hul lewe gaan wees nie. Hul is nie voorbereid op wat dit van hulle gaan vat, of vra nie.  Party mense is net nie reg vir die verantwoordelikheid nie.  Party mense is net te selfsugtig en ander misbruik hierdie mag wat hul skielik oor ‘n brose lewende wese het.

Kinders lê my baie na aan die hart, seker daarom dat ek so baie oor kinders praat. . . Ek glo soms steeds soos ‘n kind en soms verlang ek na die dae toe ek klein was, en my ma en pa nog vir my gesorg het. . . maar ek besef ook alte goed, dat alle kinders nie goeie ouers het nie, dat hul droom van die dag wat hul die ouerhuis kan verlaat, vir sommiges is hul omstandighede by die huis so sleg, dat hul eerder die koue, geharde straat sal kies en ander ken niks beter as pyn en seer nie. 

As jy my met klippe wil gooi omdat ek dit so prontuit sê, dan sal ek daai klippe vang en ‘n altaar daarmee bou . . . en ek sal die jongman wat sy storie met my gedeel het, se naam daarop skryf. 

Kry ‘n mens iets soos ‘n slegte ouer? 

JA, mens kry. 

Hoekom daar so baie, oulike paartjies is, wat sukkel en smag om ‘n kindjie van hul eie te hê, terwyl daar soveel babas gebore word in gesinne wat hul nie kan- of wil hê nie . . . is iets waaroor ek al baie trane gehuil het.  Ons sal nooit die antwoord ken nie, en ons sal nooit elke kindjie van ‘n hartseer lewe kan red nie . . .

Ons kan slegs iets doen, aan dit waaroor ons beheer het:  Om goeie ouers te wees, vir die kinders waarmee God jou vertrou het. 

Eerstens moet ons onthou dat die grootmense van vandag, ook kinders was, en dat die kinders wat tans in ons huis is, ook eendag grootmense gaan word en moontlik kinders gaan he.  Dis ‘n sirkel of kringloop, en alle sirkels is nie rond nie. Soms vat dit net een sterk persoon om hierdie skewe sirkel uit te vee en ‘n vars, gesonde patroon te begin.

Nou die dag, gee Carel vir my ‘n radys om te proe, en ek is huiwerig, maar ek proe.  Na die tyd kyk hy my met sulke groot oë aan en vra;  ‘En?’  En ek kon in alle eerlikheid vir hom sê dat dit nie sleg is nie, maar dit beteken nie, dat dit vir my lekker is nie.  Ek gaan nie nou skielik radyse begin eet nie.  Ek dink die regte woord daarvoor sal wees: BLAND.  Ekt al gehoor party mense sê, mushrooms of calamari proe vir hulle soos niks. Ek weet nie wat is jou radys nie, maar ek is seker ons almal ken iets, wat soos niks proe nie.

Goeie ouers is nie mense wat nie hulle kinders mishandel nie, dis ouers wat liefde wys en gee.  Die afwesigheid van iets wat sleg is, is nie die bewys dat iets goed is nie.  Dis net ‘n bewys dat dit nie sleg is nie.

Bitter min kinders sal erken dat hul ouers nie goeie ouers is nie, tensy hul iemand soek om te blameer of wanneer hul werklik uit hul ouers se foute leer.  My ondervinding is egter dat baie jongmense eerder hul ouers se foute sal wegpraat, want dis vernederend om te erken dat jou ma, dalk iets anders in haar lewe meer belangrik geag het, as vir jou.  Pappas is veronderstel om die hero in sy huis te wees, so dit is moeilik om te erken as jou pa nie ‘n hero was/is nie. . . Die waarheid is; Jou ma is nie ‘n goeie ma, as sy jou nie met alles in haar probeer beskerm nie, jou pa is nie ‘n hero as drank sy god is-, of as hy al met sy 10de vrou deurmekaar is nie. . . maar, dis NIE JOU SKULD NIE.  Jy kan slegs iets doen, aan dit waaroor jy beheer het. . . Dalk is jy die een sterk mens, wat die sirkel moet uitvee en ‘n nuwe gesonde patroon moet begin. 

Natuurlik is dit nie ‘n maklike rol nie, anders sou niemand as ouers gefaal het nie, maar dis moontlik.  As jy besef hoe groot eer en voorreg die kroon van ouerskap is, sal jy dit ernstiger opneem. Sal jy, wanneer jy ‘n fout gemaak het, weer en weer en weer probeer. Sal jy leer wat spanwerk tussen jou en jou maat beteken. Sal jy besef hoe afhanklik jy van God is, om ‘n goeie voorbeeld te stel. . . En sal jy alles in jou vermoë doen, om nie jongmense groot te maak, wat genesing nodig het, van ‘n stukkende kinderlewe nie.  

As jy die kind of kinders wat God vir jou geleen het, verniel of mishandel, sal jy eendag verantwoording doen! Ek troos my daaraan. . . en ek glo soos ‘n kind, dat God elke klein ‘Poppie’ in hierdie wêreld se trane tel.

As jy kan sê dat jy nie ‘n slegte ouer is/was nie, dan wil ek vir jou sê; Radyse, gaan nie die smaak van ‘n gereg verbeter nie.

Wees eerder ‘n chilli of ‘n chocolate, maar maak ‘n impak, en maak ‘n verskil.

C a r i n d i . . . jys my dream-come-true

14 Mei 2014

My liewe klein Lokka (Liefste Bokka). . . vir hoeveel jare het ek van jou gedroom, het ek gehoop. . . gewonder of ‘n kleine mensie my eendag mamma sal noem.

Mens vertel jouself, dat jy nie iets kan mis, wat jy nog nooit gehad het nie, maar ek is oortuig daarvan dat elke vroue hart die longing het om deel te wees van ‘n lewetjie wat in haar vorm.  Vir jare was daar geen teken dat ek jou ooit sal kan he nie.  Hier te kort, daar te lank. . . Dokters besoeke, nuwe pille, minder pyn, meer hoop . . . En om die leemte te vul, het ek myself maar besig gehou met ander mense se kinders en babatjies. In die winkels, as ek iets moois sien, het ek dit gekoop en na die tyd besluit vir wie se kindjie ek dit sal gee.

EN TOE . . . verras jy ons.

Een aand in September, sit ek op die badkamermatjie met oë vol trane; ek hou die wit stokkie met twee baie duidelike strepies, in my hand vas.  Hoe is dit moontlik?  Ekt gewonder of dit okay is om opgewonde te wees . . . Want wat gaan die mense se? 

Jou pa het my ‘n stywe druk gegee en gese alles sal fine wees. En ek het geweet dit sal . . . want ek glo, dis God ALLEEN wat kan lewe gee.

So . . . draai jy toe ons wêreld op sy kop. Skielik moes ons, ons April beplande troue ‘n paar maande vervroeg. Koebaai Italy honeymoon – Kan ons asseblief ons deposito terugkry?  Ons gaan nou ‘n babakamer aanbou . . . En ons moun nie, want ons wil jou he, meer as enige iets anders.

Op ons troudag het ons alles wat mooi is gevier. Liefde, eenheid, ons nuwe saamgestelde familie, vriendskap en vir JOU. Eendag gaan ek die fotos vir jou wys en jy sal weet ek en Dad pas by mekaar, soos twee blokkies van ‘n puzzle wat nooit geskei mag word nie en JY is vir my die bewys dat God ons verhouding seën.

Liewe Sussa’kie, hier sit ek en jy. . . Al 28 weke swanger, jy weeg net net ‘n kilogram, maar jy is alreeds een van die belangrikste mense in my lewe.

Berigte en nuus opskrifte van weggooi kindertjies, verwaardelosing, verkragting en aborsies het my nog altyd baie erg ontstel. Ek dink, hierdie goed gebeur, omdat mense nog nooit werklik kon grasp dat niemand ‘human property’ is nie. . . En dis daarom dat ek vroeg in my swangerskap vir die Here gevra het om die besef dat JY eintlik SYNE is, in my hart in te brand.  En dit is regtig  asof Hy ‘n lig op die aspek vir my kom gooi het, want ek WEET . . . Jy word net vir ons geleen, my Bekkie. Ons bepaal jou Venter-Pietersen-DNA en ons sal jou grootmaak – Jou alles gee wat jy nodig het, jou toe gooi met liefde, jou denke help vorm, maar in the end, bly jy God s’n. Hoe bevoorreg is ons nie, dat Hy ons soveel vertrou, om een van Sy kinders vir ons te gee?

Boetie of Sussie, sou net vir ons die verskil gewees het tussen pienk en blou, makie sakie.  Maar God weet die beste, ons het mos twee bloues, so nou is alles rondom jou vir ons nuut en vars met so pienk skynsel. Oe, jy gaan jou pa se enigste prinses wees en Waldu en Ruan gaan jou op die hande dra. Hulle sal jou leer hoe om fiets te ry, ‘n geweer vas te hou en klei duiwe te skiet; bokkies se spore uit mekaar te ken en hoe om deur jou mond asem te haal, sodat jy saam met hulle kan duik. En ek sal jou leer van lady wees, wat conditioner gebruik, beenhare skeer en cutex opsit, maar jy sal ook weet hoe om vir jouself op te staan, ‘n opinie te he, empatie te wys, nederig te wees, nooit met ‘n victim houding te leef nie en om mense te respekteer. . .

Carindi, ek voel so bevoorreg dat EK jou ma mag wees en dis wonderlik om jou te deel met my beste vriend en sielsgenoot.  Mag hy eendag jou hero wees net soos wat hy myne is. 

Ek bid elke dag dat God my sal lei om ‘n goeie mamma vir jou te wees en dat jy ‘n gesonde en happy baby sal wees. . . Ons kan nie wag om jou te ontmoet nie.

5 Maart 2014

Stille drome

Dis saterdagoggend en ek sit by ‘n restaurant, drink ‘n koppie filter koffie, die oggend koerant lê voor my op die klein tafeltjie, maar vandag is ek nie eintlik lus vir koerant lees nie.

Ek kyk na die mense rondom my en soos wat hulle verby loop, vorm ek prentjies van hulle in my kop. . . ek kyk, ek wonder. . . ek soek iets, enige iets wat vir my sal wys dat hul gelukkig is. Ek staar. . .

My gedates word onderbreek deur ‘n harde vroue stem – Daar stap hulle, ‘n mamma, pappa en ‘n seuntjie wat ‘n entjie voor hulle uit hardloop. Sy probeer seker maar net verhoed dat hy te ver van hulle af beweeg, maar haar man lyk geirriteerd met haar ‘onnodige’ kommer. ‘n Lang aantreklike man met so vinnige regop stappie volg kort op hul hakke. Hy dra ‘n Edgars pakkie in sy hand. ‘Waarheen is jy oppad?’ wil ek hom vra. ‘Hoekom shop jy alleen?’ Miskien het hy ‘n vrou by die huis en dalk is daar ‘n geskenk vir haar in die Edgars sak. Dis ‘n mooi gedagte en net daar besluit ek, DIS die lang man se storie, ‘n gelukkige een.

‘n Vrou wat ‘n baba stootwaentjie stoot, vang my oog. Sy loop amper die kind wat voor haar verby loop uit die aarde. Lekker verward, shame. Ek wonder; Is sy ‘n enkel ma?  Ek hoop nie so nie, om kinders groot te maak is erg, maar ek dink om dit alleen te doen, is erger. Aan die oorkant van die gang sien ek ‘n blonde meisie staan, sy kyk deur die venster na ‘n winkel pop met so mooi wintersrokkie aan. Die outjie wat in die winkel werk, is besig om die venter te was. Hy glimlag vir haar, maar sy draai skielik om en loop weg. Ek wonder of sy darem vir hom ook ge-smile het. Hoekom het sy nie ingegaan en die rok gekoop nie?  Ek kon nie haar gesig sien nie, maar ek dink sy sal goed lyk in die mooi sagte winters rokkie met ‘n paar bootse. . . dalk is daar niemand vir wie sy wil mooi lyk nie. Iets aan die girl lyk hartseer. Ek kry haar jammer.

Ek onthou skielik, toe ek by die restaurant ingestap het, het ek by die klein tafeltjie vir twee kom sit en agter my was ‘n ou tannie en oom. Ek draai effens skuins in my stoel om te loer. Daar sit hulle, die twee grys koppies. Die oom vat ‘n slukkie van sy tee terwyl hy sy ander hand op die tannie se hand hou. Haar oe blink, net soos die groot steen aan haar ou vingertjie. Hulle koppe beweeg nader na mekaar, wanneer hulle gesels – amper asof hulle fluitster, maar ek dink dit kan dalk wees omdat hulle nie meer so mooi kan hoor nie. Vir ‘n oomblik vang die tannie se oog myne en ek glimlag skaam. Haar lippe vorm die woorde; Goeie more en ek knik vir haar. Wat ‘n mooi ouma en oupa, dink ek by myself.

Net toe, kom ‘n jongerige paartjie in en die waiter lei hulle tot by die tafel langs my. Dit lyk asof daar ‘n donderwolk oor hulle hang. Die waiter trek vir haar ‘n stoel uit en sy blaf ‘n dankie sy kant toe. Hy vra of hy solank vir hulle iets kan kry om te drink, maar die dude met sy groen pet en tattoo wuif net ‘n hand, seker om te sê dat hy hulle ‘n rukkie moet gee om daaroor te dink. Hulle tel elkeen ‘n menu op en begin daarin lees, asof dit ‘n baie interessante boek is, niemand sê ‘n woord nie. 

Die prentjie laat my ver terug dink en effens skaam kry, want ek was ook seker al daai girl en die een wat oorkant my gesit het, het nie ‘n groen pet of ‘n tattoo gehad nie, maar ons het gereeld sulke donderwolke gehad wat ons volg.

Aan die begin – van amper 9 jaar – is ‘n mens nie stil nie, jys verlief en borrelend. Later kom die gil en skree. Jy vergewe. Jy smeek en vra mooi. Jy vergewe. Jy vergewe. Jy praat mooi. Jy huil. Jy le laat aande in ‘n lee bed en skrik kort kort wakker wanneer jy ‘n kar hoor. En jy worry. Jy probeer aangaan. Jy hoop. Jy smeek. Jy baklei. Met tye oorweldig ‘n vrees jou. Jy word oor en oor en oor en oor teleurgestel. Jy klim in jou kar en ry. Jy vergewe en kom terug. Jy hoop. Jy gaan aan. Jy worry. Jy skrik nie meer vir die skade aan die kar na ‘n klein ‘ongelukkie’ nie. Jy vergewe. Jy pak jou tas. Jy luister na lee beloftes. Jy is ongelukkig, maar jy bly, want jys ‘n banggat, bang vir verandering. En dan heelwat later, kom die stiltes . . . dis wanneer jy niks meer het om te sê nie, wanneer die sleg soveel swaarder begin weeg as die mooi. Wanneer jou stem hees gegil is. Jy voel jyt niks meer om voor te fight nie . . . maar jy bly, want jys bang vir alleen wees. Niemand is happy nie, al probeer mens hoe hard. En op die ou einde tuimel die hele spulletjie in any way inmekaar, nie noodwendig op JOU terme nie, maar jy aanvaar dit, want op 27 voel jy oud, is jy tot die dood toe moeg, baklei. Voel dit asof jou beste jare gemors is.

Skielik, terwyl meer as die helfte van jou vriende al getroud is en van hulle al sterk besig is om aan gesinne te begin werk, is jy weer die single een. En van almal was jy eintlik die een wat al lank al getroud moes wees, maar elke keer wat hulle jou in die verlede gevra het ‘Wanneer is die groot dag?’ Het hy die antwoorde reggehad, want hyt altyd ‘n antwoord gehad.

JY LEER om op jou eie voete te staan. Jy leer hoe om te funksioneer, net JY. Jy besef jy was nog nooit net ‘n JY nie, jy was altyd deel van ONS. ‘n Uitnodiging na ‘n baba tee, wrug jou soos iets wat in jou keel vassit. ‘n Braai saam met klomp couples word vir jou ‘n paar uur van masker dra, want jy HAAT dit as mense jou jammer kry. Wie sal ooit weet? Terwyl die wereld aangaan, deal jy met ‘n storm van goed, leer jy jouself ken. Jy social en haal asem, maar jy raak stil. It’s not easy, maar jy weet as jy deur die eerste alleen-jaar kan kom, sal jy okay wees. Is ‘n mens ooit okay, na soveel seer . . . Is daar ‘n quick fix wat die emosionele letsels kan gesond maak?

TYD . . .

Tyd genees tog alle wonde, gee tyd tyd . . . Jou hart kan baie meer hanteer as wat jy dink, besef jy later. Jy gee weer, jy raak weer verlief, jy leer . . . dat niemand perfek is nie. Jy leer om te compromise, jy leer om jou sirkel groter te maak en mense spasie te gee om hulself te wees, al maak die besluite wat hul neem, jou soms seer. Jy vergewe en probeer weer, probeer weer. . . Jy leer dat jy nooit werklik vry sal wees as jy nie leer hoe om te vergewe nie. Jy BID, jy buig voor alles wat groter as jy is. En in jou alleenste tye, leer jy dat God jou beste vriend is. Jy raak kwaad vir jouself, omdat jy in die soeke na liefde, elke keer so baie van jouself gee, jouself oopmaak vir nog hartseer. Maar jy glo ook nie daaraan om ‘n halwe lewe te leef nie, so jy werk maar deur rejection, time and again. . . Tel die stukkies op en gaan aan.

Jy soek die fout by jouself, maar elke ‘Ek is jammer, ekt ‘n fout gemaak’ speech wat jy moet aanhoor  . . . gee jou die versekering dat jy eintlik okay is.. En jy sê; DANKIE Liewe Heer vir die vrede in jou hart. Jy sê dankie Liewe Heer dat U my hart sag hou. . . Jou beker vol hou. Jy waardeer elke opregte vriend en vriendin in jou lewe. Jy groei.

Goed of sitsuasies verander nie noodwendig nie, maar die manier waarop jy daarna kyk verander en daarom gooi jy nie meer klippe nie. . . jy bere daai klippies, waarmee jy jou pa nog elke nou en dan mee wou gooi, omdat hy jou ma na 26 jaar gelos het. Jy wonder nie meer, hoekom hulle nie soos die ou tannie en oom wat agter jou sit kon wees nie.

Jy maak vrede.

Sê-goed soos ‘You are in charge of your own happiness’ laat jou wonder. Jy kyk met krietiese oë na mense rondom jou en jy kan nie besluit of dit altyd die beste is om die ‘regte’ ding te doen, ten spyte van jou eie geluk nie. Wanneer jy jouself gevind het en happy is met die mens wat jy is, besluit jy dat dit beter is om alleen te wees as in ‘n verhouding waar jy in elk geval eensaam voel. MAAR, jy lê jou stille drome voor God se troon neer en hou op soek . . .

………………………………….

En dan, op ‘n dag . . . wanneer jy dit nie verwag nie. . . . stap hy in . . . staan hy 1.84m in sy skoene, voor jou en draai jou wereldjie op sy kop.

IETS het daardie dag net in plek geval.

So baie keer het ek hierdie versie raak gelees en toe word dit vir my ‘n werklikheid: Eendag sal iemand in jou lewe stap en dan sal jy weet hoekom dit met geen ander een uitgewerk het nie.

En die waarheid is, vroeer sou nie reg gewees het nie, want ek was toe nog nie reg nie.

Om ‘n liefde soos hierdie te leer ken;

vee ‘n verlede uit,

maak ‘n deur van geluk vir jou oop,

wat harte warm maak,

oe blink maak,

die toekoms die moeite werd maak.

Dis asof jy weet, jy gaan nooit weer iets alleen hoef te doen nie.

Dit voel net anders.

Ek sal ‘n pad saam met jou stap, ‘n hobbelrige pad, grond pad, ‘n lang pad . . .

Liefde tussen twee mense is mos soos ‘n bakkie met water daarin. 50% pienk en 50% blou. Soos wat mens oor klippe en rowwe terrein loop, mors van die water uit. Dit moet die heeltyd volgehou word, met die regte ratio.

Ek is so ongelooflik dankbaar, want ons bakkie is die perfekte pers kleur en hy loop oor . . . mag dit altyd so wees.

Mag ons die ou oom en tannie word wat ek vandag gesien het. Iemand op wie die res van die wereld jaloers kan wees. . .

Mag ons leef met die leuse:

Tussen my en jou, is ONS die belangrikste. . .

Ek tel die slapies, want nie te ver van nou af nie, begin my ‘Happy-ever-after’ . . . saam met jou.

31 Mei 2013

Mense van my asem. . .

Soms moet ek vir myself sê, MAAK PLEK, skuif op, make the circle bigger. . . ons isi almal dieselle nie, en dis OK.

Ek love die wat kan filosofeer, rooiwyn drink, goeie musiek wardeer, graag luister en om ‘n braai vuurtjie kan sit en lag, wat kan gesels oor ‘onthou jy?’ – ‘ekt eendag erens gelees’ – ‘het jy geweet’ . . .  Dis daar by julle wat ek vir my ‘n permanente sit plekkie maak, waar ek kan rustig raak en waar ek my hart kan leeg-maak, sonder om te worry oor wat julle dink, want ons dink dieselfde.  Ons weeg goed, meet goed, bespreek goed, deel goed. Julle groei op my soos mos, want julle is amper net soos ekke.

Ek loop ‘n pad met opregte mense, wat weet die lewe gaan oor soveel meer as die klomp nulle in jou bank, mense wat weet, wat jy het, is NET genade. Ons hou kontak en ons ruil bybel versies uit, stuur elke nou en dan ‘n opbouende sms’ie of email. . . Ekt jou nodig, want om jou in my lewe te he, hou my geanker.  Jy is vir my ‘n voorbeeld en ek is vir jou ‘n steunpilaar.  Saam jou, skyn my lig op sy helderste.  Ons kyk boontoe, ons herinner mekaar om NOOIT iets as vanselfsprekend te aanvaar nie.  Dis vir jou wat ek bel as my hoop min is en my gemoed vol.  DANKIE.

‘n Vinnige kuiertjie, ENIGE tyd, want jys altyd game. Tyd is vir jou niks, jy haat roetine. Jou crazy, mal geselsies kills the dullness of an average day.  In jou company lag ek dat my oe traan, niks ernstige stories nie, ons unwind net.  As ek by jou is, besef ek opnuut, ek wil nooit die gevoel van VRYHEID verloor nie. Jy is soos ‘n koel briesie op ‘n warm dag. 

Jys anders, mar ek love dit. . . dit fasineer my. Jy loop rond met jou skets boek en sleep jou voete. Ek wil nie soos jy wees nie, want ek dink jou klere is snaaks, jy dra te veel ringe en jou hare is deurmekaar, maar ek dink dit pas by jou.  Ek geniet al jou stories . . . En as ek vir jou koebaai sê, sê ek ook sommer vir die Here dankie dat ons almal uniek is. Jou foto hoort in ‘n art book, want dis hoe cool jy is.  

As ek kon, het ek meer tyd saam met jou spandeer. . . bal geskop en ingekleur of iets. Kleine mensie, wat altyd lag.  As ek by jou is, leer ek om weer kind te wees en ek besef ouderdom is net ‘n nommer.  Mag ek nooit die lus om te lewe verloor nie.  En vir jou. . . vir jou wil ek niks leer nie, want ek wil nie die plek van jou mamma en pappa vat nie, ek wil net DAAR WEES VIR JOU. 

Ek kry jou jammer. . . Want jy kry altyd al die ander jammer. Jou hart is sag. Jy vra forever omverskoning oor iets.  Jy praat sag, ek doen moeite om jou te leer ken, maar jou pastel bloesie en gestrykte demin, en perfekte kapsel, maak my ongemaklik. Elke epos van ‘n verlore hond en foto van ‘n kind wat ondervoed is, laat jou uitbars in trane. Jy glo die wereld is wreed. Ek wil jou in watte toedraai en beskerm.  Soms word ek kwaad en praat hard, voel ek sommer om iets te skop . . . dan dink ek aan jou en wens ek, ek was biekie meer saggeaard soos jy, want jyt ‘n mooi hart.

Ons kom al ‘n lang pad, maar tye verander. . . Ek kuier soms by jou en jou gesinnetjie. Kyk na jul gesins fotos teen die gang muur en sien die tietie-bottels in julle kombuis staan. Ek hoor hoe besig julle is, hoe duur pamper doeke is, en ek smile. Jy het ‘n mooi familie en wanneer ek met jou kinders te speel, kry ek ‘n kykie in ‘n lewe, ver van myne af. Soms beny ek julle. Maar ek herinner myself. God se tyd is nie ons tyd nie.  En as ek na die overall prentjie van julle kyk, weet ek hoe ‘n huis moet lyk en voel.

Jy is nice, mense hou van jou, ek ook, maar as jy my vra hoe dit met my gaan, vertel ek jou, net bo-langs. Ja, jy is my vriend, maar om die een of ander rede hou ek my afstand.  Iets pla my en ek kan nie my vinger daarop le nie, maar. . . nietemin, leer ek by jou, want jy is wys. Ek hoor jou praat, jys slim met woorde, jys besig, jy doen goeie goed, en jy is (sonder dat jy dit dalk besef) vol van . . . JOUself. Ek wil so graag vir jou sê, Make your circle bigger! 

Ek hou van jou, want jy is wie jy is. Biekie crazy, maar dierbaar.  Jy lat my lag, jou emotionele uitbarstings leer my om beheersd te wees.  Ek hou jou dop en al jou energie maak my moeg. Jy is soos die weer. . . sê wat jy wil sê. Ek luister na al die dramas in jou lewe en ek smile, want jy raak so excited . . . en jy raak net so kwaad.  Jy is passie vol, oor als !!! As ek eendag in ‘n fight is, wil ek he jy moet aan my kant wees.

Ek besef maar al te goed, as jy ‘n prentjie van my moet teken, pas ek ook dalk nie in die rol van ‘n hero nie.  En dis ok met my . . .

. . . .we just gotta make the circle bigger.

How great is it . . . ‘Being able to walk with kings, but never loose the common touch’

13 September 2011