‘n Mooi, maar hartseer pad. . .

Dis nodig om stil te gaan staan, na ‘n besige tyd en rustig te raak, om asem te skep en te reflect. . . om te fokus op die lewenslesse wat daaruit gebore is.

Dis moeilik om in ‘n kort rukkie so baie in te neem, soveel van jouself te gee, onbekende paaie saam met onbekende mense te loop.  Trane gaan steek soms vas in jou hart . . . en die moontlikheid dat dit êrens met jou gaan op catch is nogal groot, so unlike al die ander stukke wat ek al geskryf het, voel ek hierdie een mag dalk meer rou wees.  Ekt geen fancy idee hiermee nie, ek het net ‘n groot begeerte om my oorvol – hart leeg te maak. 

En, stories van genade, moet gedeel word.  Nie net inspireer dit mense nie, maar genade hou ‘n mens regop, liefde maak hande en harte oop, en. . .  Redbull of Play op ‘n nugter maag gee jou ‘n hupstoot. Don’t judge me, okay! 

Min mense weet, maar die 14de Augustus was ook my dad se verjaarsdag.  Ek wou graag by hom uitkom daardie dag, maar ek was nodig op ‘n ander plek; Langs die pad – van ‘n onbekende gesin se lewe.  Ons paaie het gekruis, op ‘n slegte pad, tussen karwrakke en ambulanse.  Dit was nie my eerste keer by so ongelukstoneel nie, en dit sal ook seker nie die laaste keer wees nie.  Ek raak nie paniekerig nie, noem dit maar ‘n gawe, ek noem dit genade.  ‘n Pragtige 14 jarige blonde kop dogter het haar lewe verloor.

Ek wil nie vashak by die 14de nie . . . want wat in die 3 weke daarna gebeur het, het ook deel geword van my stukkie pad, storie en getuienis.  

Ja, dis vermoeiend. 

Ja, dis hartseer. 

Die engelsman sê soms, It never rains, it pours. . . En net so, het daar ‘n vlaag dinge gebeur, wat my meegesleur het. 

Want ‘n week later, hou ek die hand van ‘n vroutjie vas, wat langs haar pa se liggaam kniel, kort nadat hy deur leeus doodgebyt is.  As dit nie was vir die hartseer toneel voor ons nie, sou ek ‘n kampstoel kon vat en net daar kon rustig raak en ontspan, want die sonnetjie het warm op ons skouers gebak en die voëls het getjirp.  Dit was ‘n mooi en heerlike dag in die bosveld, maar die hartseer was aanvoelbaar.   ‘n Gryskop oom en sy 3 leeus. . . Ek vra nie vrae nie, want ek het geleer om nie ‘n komma te sit, wat Hy ‘n punt kom maak het nie.  Ek ry daar weg met ‘n rustigheid in my hart, want dis amper asof God self daar was. 

4 Dae later, laat die sondagaand, staan ek in ‘n kring en bid vir ‘n klompie onbekende mense. Op die bed onder die kombers steek ‘n middeljarige vrou se kaalkoppie uit.  Sy het haar stryd teen kanker verloor.  Dit was ‘n kortpad, 4 maande.  Die Here het haar kom haal.  Die familie is stukkend, maar deur die trane sê almal dankie, want hul het ‘n tyd van genade beleef.  Tyd van regmaak en afskeidneem.  Die dogters kies ‘n mooi rokkie en ek help hulle om hul moeder aan te trek.  Dis bitter moeilik vir die twee sussies, maar hul doen dit met soveel moed.  Ek wil hulle vashou en styf teen my beating chest vasdruk, want ek het self ‘n ma en ‘n sussie.  Dis hartseer, maar mooi!  Carel staan vir my en wag, daar heers ‘n heilige stilte tussen ons, oppad huistoe . . . unspoken liefde omvou my.    

Ėrens langs die pad, wanneer hierdie mense se hartseer ook dreig om jou hart lam te lê, vind jy krag in die besef dat jy in diens staan van Hom, wat die wêreld in Sy hand hou.  Jy wonder nie meer hoekom Hy juis hierdie job vir jou gegee het nie, want jy besef dis ‘n absolute voorreg.  Wardering of erkenning is nie belangrik nie, want die belonings lê vasgevang in die hoendervleis oomblikke wat jy met hierdie mense deel.  Wonderwerke, wat jou laat stom staan.  Mense wat hul harte en hande oopmaak. Special oomblikke wat niemand ooit van ‘n mens kan wegneem nie. 

‘n Tiener meisie het vir die eerste keer in haar lewe deur ‘n Drive-thru gery en ‘n McFlurry geëet. . .  ek besef dis net ‘n icecream, maar in my kop het hierdie blerrie roomys in die plek kom staan van alles wat geluk bring . . . en ek huil . . . want op die 30ste het ons ‘n blonde koppie begrawe, wat nooit ‘n McFlurry gehad het nie.  Ek onderneem om vir solank as wat ek kan, betrokke te bly by hierdie jongmeisie se lewe. Ek wens ek kon geluk vasvang en bottel, dan sou ek hierdie bottels op haar voorstoep gaan aflaai, sodat sy elke dag daarvan kan drink. 

Hulle stories verander mens. . .   

Skielik het jy minder tyd vir nietighede, onnodige dramas, ‘n familie rusie oor wie kuier meer by wie, of ‘n gesmeek om in iemand se lewe te wees . . . jy skei die kaf van die koring en koester jou eie kringetjie, want jy besef, mȏre is julle dalk die mense wat kring-staan om ‘n geliefde se bed. 

Ek kon toe eers die 16de by my Dad uitkom. Met ‘n sakkie propvol lekker, bederf goedjies, het ek langs hom op sy bed gesit en gesels. Hy wou weet hoekom ek nie eerder vir hom ‘n roomys gebring het nie. Next time Dad, next time . . . bring ek vir jou ‘n McFlurry, het ek gesê.

Langs my op die lessenaar vang my oog kort kort die brandende vlammetjie, en die reuk van jasmyn hang in die lug. Ek brand ‘n kers vir julle vanaand . . .
. . . mense wat ek nooit geken het nie.

Ek blaas maar die vlammetjie dood . . . ek weet nie hoe groet mens iemand wat jy nooit geken het nie.

Ek is dankbaar vir elke les wat ek op hierdie – soms moeilike – pad geleer het.

12 thoughts on “‘n Mooi, maar hartseer pad. . .

  1. “Ek vra nie vrae nie, want ek het geleer om nie ‘n komma te sit, wat Hy ‘n punt kom maak het nie.”
    Venter, ek ken jou nie. Ek het vandag jou vir die eerste keer in my lewe raak gelees, maar ek is versot op jou woorde. Ek sit hier met my mond wat oop hang. Jy is merkwaardig. Jy skryf my siel wakker. Dankie girl…

    Like

  2. Ai vriendin, Ek kry nou eers kans om hierdie te lees. Lekker sit ek en trane vee.

    Jy het n gawe!

    Die laaste tyd was regtig challenging op soveel vlakke. Dankie dat jy die goed deel en mens net weer remind aan die goeie dinge ook. Soms as die wolke donker is, help so silver randjie baie.

    Hoop regtig dit gaan goed met jou xxx

    Like

    1. Baie dankie Matty.
      Ek weet jy en F is ook deur so baie die laaste maand. Ek is so bitter jammer oor jul verlies. In ons tye van hartseer, moet ons onsself herinner dat daar elke dag, elke uur iemand is, wat ‘n geliefde aan die dood afstaan. Dit maak nie ons seer minder nie, maar mens besef jy is nie alleen nie. NIemand word hartseer gespaar nie. Maar die wat hoop saam met hul dra, hanteer dit beter.
      Love u

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s