‘n Hart agter tralies . . .

Gewone mense, wat buitengewone dinge doen, fasineer my . . . ek gebruik spesifiek nie die woord inspireer nie, want buitengewone dinge, is nie noodwendig iets goeds of eerbaar nie. 

Gewoonlik weet ons nie wat hierdie dinge alles behels nie, totdat ons ‘n bietjie dieper delf.  Ek wil graag glo dis my opregte belangstelling in mense, wat my dryf om die storie agter die storie te probeer uitvind.  Selfs al ontstel dit my, maar elke nou en dan word ek ook verras en inspireer dit my, indeed. 

Dit gebeur te dikwels dat ons ‘n opinie van iemand vorm, bloot uit dit wat ons van hul hoor of in ‘n koerant lees.

As jy al aan die ontvang kant van so onregverdige etiket was, sal jy seker met gretigheid verder lees.  En as jy, soos ek, jouself al daaraan skuldig gemaak het, deur ‘n persoon bloot uit die oog van iemand anders te beoordeel, dan moet jy asseblief nie nou ophou om te lees nie.  Ek deel juis my stories en ervaringe, sodat iemand iets daaruit kan neem.  ‘n Moontlike les, ‘n bietjie introspeksie, ‘n sin vir beter-verstaan, ‘n saadjie . . . Ek stoei partykeer vir weke en selfs maande, voordat ek begin skryf, juis omdat ek dan wag vir woord of ‘n teken dat die Here êrens die grond omgedolwe het, en die tyd reg is om die saadjie te plant. . .

#Moordenaar   #Joernalis   #Tronk   #Storie   #Wreed   #Hartseer   #Skokkend   #Verkeerd?   #Oordeel   #MyTronk   #JouTronk   #Liefde   #Genade   #Mooi   #Drome   #Verander?  . . . beskou hierdie as ‘n paar klippies wat ek langs die pad gooi, tel hulle op en bou ‘n altaar of pak hulle in ‘n ry en bou ‘n voetpaadjie . . . bitter min mense se stories bestaan net uit sagte woorde en glitter, maar that’s life. 

Daar is ‘n paar goed waarin ek nog altyd onwrikbaar glo; 

Ek glo, mense word vir ‘n rede op jou pad gestuur

Ek glo dat God die enigste Een is wat mense se harte waarlik kan verander

Ek glo dat liefde ‘n groot impak maak

Ek glo in tweede kanse

Die laas’t genoemde, is seker die moeilikste veral as jy met ‘n moordenaar te doen het.  I mean . . . Maar wies nou vriende met ‘n moordenaar, right? 

Erens in Augustus het ek vir Marizka ontmoet.  Ek was betrokke by ‘n gesin se lief en leed, nadat hul hul dogter in ‘n motorongeluk verloor het, die storie het Pretoria geruk, baie media publisiteit geniet, en Marizka was ‘n joernalis wat ‘n scoop gejaag het. Ekt egter vinnig agter gekom dat sy regtig belangstel, haar empatie en die manier hoe sy die storie hanteer het, het ‘n deur tussen ons kom oopmaak.  Ons het kontak gehou, elke nou en dan ‘n boodskap gestuur en gesels.

‘n Paar weke terug, herken ek haar gesig in ‘n News24 berig op facebook. . . Marizka, mý Marizka, is dié joernalis, die een wat opslae maak- en uit haar pos by Huisgenoot onthef is omdat sy op een van die Krugersdorp moordenaars verlief geraak het.  Shit shit shit!!!

Ek tel my foon op en reël ‘n afspraak. Hierdie keer is ek die joernalis, maar ek is nie opsoek na ‘n scoop nie . . . Ek wil dieper delf.  Ek wil weet; Hoe gebeur dit? Die stoptekens in my kop, laat my nie eens toe om daaraan te dink nie.  Hoe de hel?  Ek besef my grense is rock solid.

Sonder oordeel, maak ek reg vir ons kuiertjie.  Ek stel nie belang om as berader op te tree nie, ek wil he sy moet veilig voel om haar storie met my te deel, soos ‘n vriendin. By Spur in Lynnwood, ontmoet ek een van die opregste mense wat al ooit my pad gekruis het. 

Sy sit oorkant my, haar getattooeerde arms swaai links en regs, op en af, soos wat sy beduie.  Die bandjies om haar arm het Le Roux vir haar in die tronk gemaak, së sy.  Die 29 jarige Marizka, is nie net ‘n briljante  joernalis nie, sys ook ‘n mamma wat alles vir haar dogtertjie sal doen.  Sy is wys!  Sy is ‘n fighter.  Sy is snaaks.  Ek vra vrae, sy antwoord. Soms met ‘n hartseer trek om haar mondhoeke, ander met ‘n twinkle in die oog.  Ons praat oor haar boek, Uitgewerp, wat in Januarie op die rakke sal wees.  Ons lag.

Ek huil.

Sy ken sukses, sy ken brokenness. . . maar wat my die meeste van haar opval is haar rou opregtheid en haar geloof.  Sy is nie iemand wat bid nie, sy praat sommer met die Here. 

Ek het nie gegaan om oor die moorde te praat nie, tog hoor ek details wat my hare laat rys.  Ek wil weet: Hoe raak ‘n mens verlief op iemand wat mense doodgemaak het? 

Marizka vertel my van die vriendskap wat daar tussen haar en Le Roux ontwikkel het.  Hoe hy, elke keer wanneer sy gaan kuier, beter lyk.  Geskeer en skoon.  Hy doen moeite, los selfs uit sy eie die dwelms, want daars iemand wat in hom belangstel, sonder oordeel.  Iemand wat met hom wil gesels, wat kom kuier en weer terugkom.  ‘Dink jy ek is mal?’, vra sy vir my.  Ek skud my kop en sy gaan aan.  Sy vertel vir my van ‘n jongman wat ingesluk is deur die wreedheid van ‘n ma wat niks daarvan gedink het om iemand dood te maak nie, van manipulasie en bang-maak-stories, van sy keuse tussen maakdood of word doodgemaak, van sy vrees vir die res van die ‘gang’.  ‘n Jongman wat met ‘n bybel in die huis groot geword het, maar God en Sy liefde nooit leer ken het nie.

Here, hoe moet dit wees om U nie te ken nie?  Ek kan my nie indink nie.     

Ons mag nooit vergeet dat onskuldige mense hul lewens verloor het nie.  Dis onmenslik wreed en hartseer . . . uit respek vir hierdie mense, herinner ek myself deurentyd daaraan.  Maar die storie wat voor my ontvou, gaan oor iets heeltemal anders.  Ek hoor van ‘Uncle John’ ‘n nie-blanke securityguard, wat vir Le Roux  ‘n bybel gekoop het, a Bible for prisoners.  Ek hoor hoe Le Roux die naam van ‘n jong kindjie in hierdie bybel neergeskryf het, dis die kind van een van sy slagoffers, want eendag wil hy haar persoonlik gaan omverskoning vra.  Ek wil eers kriewelrig raak toe ek hoor hoe hy leer om met ‘Die Bra daarbo’ te praat, maar besef vinnig dat God nog vir hom ‘n vreemdeling is.  Ek hoor hoe hy Uncle John se bybel lees in die aande wanneer hy sukkel om te slaap en die nagmerries hom wakker hou. Het hy berou?  JA.  Het hy al vergifnis gevra?  Ek dink nie hy weet hoe nie.

Ek leer van Marizka se eie tronk, die een waarin sy vir ‘n paar jaar vasgevang was. . . ‘n ongelukkige huwelik.  En hoe sy daaruit losgekom het.  Hoe haar gereelde kuiertjies by die tronk ook iets geword het, waarna sy begin uitsien het.  Le Roux se storie het die manier waarop sy haar eie dogtertjie grootmaak, kom verander. . . Want kan jy imagine, sy ma was nie so nie? 

Syt nie nodig om vir my te vertel hoe die mense in die media haar met klippe gooi omdat sy betrokke geraak het by ‘n misdadiger nie, want ek het self al die 384 comments op facebook gelees.  Swart gesmeer, sonder dat enige iemand belangestel het om dieper te delf.  Die vrou hier voor my is alles behalwe ‘n tronkhoer. Sy is brawer as wat ek al ooit in my lewe was.

Hoe langer ons gesels, hoe helderder word die prentjies ingekleur. . . tussen hierdie klomp bladsye lê ‘n groot droom opgesluit. . . ‘Carli, kan jy imagine, hy kom eendag uit daai tronk en hy begin getuig?’  Ek het lanklaas soveel excitement, soveel hoop en so mooi droom beleef.  Haar oë kyk regdeur my, glasblou, blink, nie ‘n sweempie twyfel.  Maar eers moet hy sy straf uitdien, sê sy.  Ten minste nog 11 jaar. Dis ‘n lang tyd, maar meer as genoeg tyd vir ‘n groot wonderwerk. Hoe stap ‘n mens weg van so sitsuasie, as jy sien dat jy ‘n verskil in iemand se lewe maak? Vra sy vir my. Wanneer jy die impak van liefde en aanvaarding op so ‘n wonderbaarlike manier beleef. 

Ek kry hoendervleis.  Wat as?  Here, sal dit nie wonderlik wees as U storie, sy storie word nie?

Voor ek groet vra ek vir haar of sy vir hom bid en sy knik haar kop;  ‘Baie.  Ek bid baie vir hom.  Ek herinner die Here gereeld daaraan dat Le Roux ook Sy kind is’.

Ek groet haar soos ‘n ou vriendin en klim in my kar.  Anders as wat ek verwag het, voel ek glad nie teneergedruk nie.  Inteendeel, soos wat ek afdraai op die N1, sê ek vir die Here dankie dat ons paaie kon kruis.  Ek voel soos ‘n ryker mens. Die hoop wat sy met haar ronddra, is aansteeklik.  Ek dink in my stilligheid dat sy net sowel Le Roux kon wees en ek Marizka.  Syt ‘n kans gevat met hom, belangestel om dieper te delf. 

By die huis, vertel ek vir Carel van ons ontmoeting en later die aand toe hy langs my in die bed lê en ek hoor sy egalige asemhaling, skakel ek die bedliggie aan en trek ‘n pen en notaboek nader. . . 

Ek dink terug aan alles wat daardie oggend gesê is.  Ek dink aan tronke, maar nie geboue met diewering en slotte soos Pollsmoor of Kgosi Mampuru nie.  Ek wonder skielik hoeveel mense leef nie maar in hul eie tronke nie.  Ek wonder hoekom ons mekaar so graag met klippe gooi?  Ek wonder oor vergifnis?  Oor groot en klein sondes?  Ek dink aan die fliek, The Shack, en onthou hoe mooi die konsep van Goddelike ouerskap aan ons uitgebeeld is.  Dat elkeen wat hierdie aarde loop, U skepping is en dat U genade genoeg is.  Dat Jesus gesterf het vir gebroke mense.  Die man wat langs Jesus aan die kruis gesterf het, was ‘n moordenaar, ne?  En Hy het hom vergewe, sonder dat Hy eens sy storie geken het.

Ek dink aan die stoptekens in my eie kop, grense wat my sou keer om selfs net betrokke te raak by ‘n bandiet in die tronk.  Wat nog van verlief raak?  Eish.  Voordat ek my kop in skaamte wil laat sak, val die pennie op die grond en ek sit regop. . . ek besef ons almal hoef nie hero’s vir iemand in die tronk te wees nie. Ons het net meer mense nodig wat ‘n ingesteldheid sal ontwikkel vir die mense wat vry rondom ons beweeg, maar vasgevang is in hul eie tronke.  Soms neem dit net een persoon om op te daag, sonder oordeel, dieper te delf en te luister.  Iemand wat nie sal weghol nie.  ‘n Vriend of vriendin wat vir jou bid.  Dalk het jy nog nooit so iemand in jou lewe nodig gehad nie, wel . . . wees dan daai iemand vir iemand.  

Ek soek nie verskoning vir die dade van ‘n moordenaar nie, maar ek glo steeds:  

Mense word vir ‘n rede op jou pad gestuur

God is die enigste Een wat mense se harte waarlik kan verander

Liefde maak ‘n impak

Ek glo in tweede kanse

. . . en ek glo hierdie dinge sonder uitsondering. . .

Dankie Marizka, dat ek jou storie kon gebruik.  Dankie vir die les van hoop en vergifnis.

Ek dink nie jys mal nie.

Ek dink ons is almal instrumente in die hande van die Koning, sonder dat baie van ons dit dalk besef, en dit gee ons power om lewens te verander, scoop by scoop . . . hoe crazy is dit? 

8 thoughts on “‘n Hart agter tralies . . .

  1. Wat n storie. Iets uit n boek Wat lewe gekry het voor jou oë en van elkeen van ons wat die storie Lee’s. Wow!! Sy is baie sterk. Sy het baie geloof en hoop. Ek bid Vir Hille al2, Vir Krag en ondersteuning

    Like

  2. Pragtige, diep boodskappe. Ons vergeet so baie gerieflikheids onthalwe wat ons waarlike take as volgelinge van Jesus is. Trots op jou Carli.

    Like

    1. Andre, baie dankie.

      Dis ‘n storie wat gedeel moes word, juis omdat daar soveel fassette hieraan is, en ons almal kan iets hieruit leer.

      Na my kuier met Marizka het ek vir dae lank herkou aan die dinge. . . amper te veel om in ‘n blog vas te vat. (daarom dat ek so uitsien na haar boek)

      Nietemin . . . Dankie ook dat jy dit op Facebook gedeel het. Ek het die kommentaar gesien, maar kon ongelukkig nie self daar iets se nie.

      Dis so waar; My simpatie le nie as sulks by die moordenaar nie, alhoewel ek kan insien dat hy ook maar net die produk van sy opvoeding was, en in my oe is dit tog rede tot versagting.
      Verder was dit vir my erg om te sien hoe mense vir Marizka onder die bus ingooi, sonder dat hul moeite gedoen het om na haar kant te luister. Ek het opnuut besef, God kies spesifieke mense vir spesifieke take. Plekke waar Hy my nie sal kan gebruik nie, want my wit is soms te wit en my swart is soms te swart (en hierdie het nou niks met velkleur te doen nie, nê) Maar God het iets in Marizka gesien en dit gebruik. Ek glo dit.
      En dis okay om nie met moordenaars te wil werk nie, maar wees dan ingestel op mense rondom jou, wat ook op ‘n manier aan iets vasgemaak is, en wat in stilte skree om gehelp te word. . .

      Groete & Blessings
      Carli

      Like

  3. Sjoe Carli, weereens soveel diepgaande konsepte. Nou gaan hierdie inskrywing weereens lekker in my gedagtes rond hardloop. Dankie vir jou kykie in hierdie storie. Merkwaardig en inspireerend. Jy is ‘n inspirasie vir ons!!! Dankie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s