5 broodjies + 2 vissies = Genade

Dag 30 van lockdown. . . Glo dit of nie, ek het uiteindelik die tyd om rustig te sit en oor hierdie afgelope tyd se dinge te ‘praat’.  Ekt maar ‘n koppie tee gemaak vir versterking.  My ma sê altyd, tee is haar petrol en sonder tee het sy nie krag nie. 

Miskien is hierdie koppietjie nie sterk genoeg nie, maar eks bly daars tee in die kas en suiker en melk en krag om water te kook en ‘n computer, met internet nogal, om op te tik. 

Ek sit in die studeerkamer en hoor vir Carel en Carindi in die kamer gesels.  Hy lees vir haar ‘n bybelstorie.  Music to my ears.  Sy raak ook nou gewoond aan laat gaan slaap en later opstaan.  Net nou die dag het iemand vir my gesê, ‘Ja nee, ons almal se slaappatrone is in hulle glory in’.  Ek dink toe; As dit maar al was wat verander het . . . maar hierdie ding, het die hele wêreld kom verander. 

Goed of sleg?

Nodig of onnodig?

Per ongeluk of aspris?

Vlermuis of laboratorium?

Wat maak dit tog saak?

It is what it is.

Nie een van ons het beheer hieroor nie.  En dis mos maar moeilik vir mense om nie in beheer te wees nie.

Vir party is dit erger as vir ander. Vir my het die idee van lockdown glad nie so bad geklink nie, behalwe nou vir wasgoed was en huis skoonmaak. Verder was ek op ‘n manier, selfs opgewonde, om soveel tyd by die huis- en saam met my gesin te spandeer.  Gelukkig hou ek van, by die huis wees. Ek het uitgesien daarna om saam met Carindi somme te doen en die ABC te skryf, om kwaliteit tyd saam met Carel te spandeer (my man wat soms vir weke lank weg van die huis af is, met werk), kaste reg te pak, iets kreatiefs aan te pak, laat te slaap, te lees, te kuier saam met Waldu en Riana, tee te drink saam met my skoonma en so uur of twee ‘n dag voor die rekenaar te sit en te werk, as ek kan, en as dit nodig is. 

Dis asof ons gedwing is om rustig te raak, te regroup. 

Ek het daagliks die Covid 19 syfers op die internet dopgehou, vir die grappe gelag en al die videos en berigte gelees wat my whatsapp so laat gons het.  Die ding het kom nesmaak in ons almal se koppe en huise.  As jy opstaan met ‘n keelseer, het jy gewonder of jy siek is. Die virus en sy gevolge was alomteenwoordig.

My hart het gebloei vir Italie, wat op daardie stadium die hardste geslaan is. Ek het die mense wat al vir so lank in lockdown was, uit my hart uit, jammer gekry. Baie van hulle in klein ou woonstelletjies. Ek kon myself nog nooit picture op die 3de of 12de vloer van ‘n woonstelblok nie.  ‘Kan jy imagine?’, het ek ‘n paar keer vir Carel gevra, terwyl ons op die stoep na ons groot tuin sit en kyk, sonder om ‘n antwoord te verwag.  Ek is so dankbaar vir die spasie om ons, genoeg om te kan stap en speel en waar die kinders kan fietsry en klimraam klim. 

Dit was hemels, rustig en gesellig . . .

‘n Dag of 2 later, ontvang ek ‘n oproep van ‘n dame, sy wil weet of ek asseblief met haar skoonsussie in verbinding kan tree.  Haar swaer het sy pistool gevat en homself toegesluit in sy werkskamer, hy dreig om sy eie lewe te neem. Hy is die eienaar van ‘n besigheid en hy vrees dat hy die deure gaan moet sluit.  Wat moet ons doen?, vra sy vir my.  Wat kan ek anders doen, as om vir haar oor die foon te bid, terwyl ons God vertrou dat die skoot nie sal afgaan nie.  Ek bel een van my reservis vriende in die polisie om te hoor of daar iets anders is wat ons kan doen.  Hy sê vir my dat ek myself moet regmaak vir meer sulke oproepe.  Dankie Vader dat U die storm stil kom maak het en dat hierdie pappa, man en werkgewer vandag nog by sy familie is.  Die bewerasies wou my vir ure daarna steeds nie los nie.   

The penny dropped . . . ek het besef, hierdie leeglêery, niks inkomste, virus pandemie, maak verskillende vrese en kommer by verskillende mense wakker.

Waarom mense so baie toiletpapier gekoop het, kon ek nie verstaan nie.  Ek was nie op ‘n paniekerige-inkopie-uitstappie nie.  Sad to say, pleks het ek maar meer Bernini’s en wyn gekoop. 

3 April, kry ek die eerste boodskap; ‘n Gesin wat my kontak en vra vir hulp.  Hul koskas is leeg. Ek het hul al in die verlede gehelp met ‘n paar goedjies.  Hul ken my deur die Trauma Sentrum hier in ons area.  Ek krap in ons spens en stuur sommer so gelyktydig ‘n whatsapp op ons woonbuurtgroepe. . . Kan iemand asseblief help?  Daars ‘n gesin in nood.  Die volgende paar dae hou my foon nie op lui nie.  Mense kom laai goed af en mense bel my om vir my van ander te vertel wat ook in die knyp is. 

Die nood is groot. 

Ek voel oorweldig. 

Ek worry. 

Ek bid. 
Here, hoe gaan ons dit als kan hanteer? 

Ek gesels met ‘n vriendin, ons bespreek die dinge en ons deel dieselfde kommer.  Saam-saam besluit ons om onsself beskikbaar te stel as middelmanne.  Ons neem die eerste stappie in blinde geloof.  Ons bel 3 ander vriendinne en hulle spring pens-en-pootjies saam met ons op die kospakkie bus.  Ons maak seker die gemeenskap weet waarmee ons besig is, en hoe ons hierdie bus gaan bestuur, ons maak immers staat op hulle goeie harte en oop hande.  Ons fone begin lui, party wil gee, ander wil net hoor of ons weet van die of daai gesin wat swaarkry. 

8 April, bel Dianne Broodryk van Jacaranda Radio Stasie my, hulle het gehoor van ons gemeenskapsprojek en wil ons bless met R 10 000.00.  Ek moet dit eers stilhou, want Martin Bester gaan my die volgende oggend tussen 10 en 11 bel en ons gesprek sal dan opgeneem word.  Ek moet surprise klink.  Ek loop op en af in die huis, soos ‘n hond wat lê-plek soek . . . Bogger dit, ek bel my twee hartsvriendinne en vertel hulle. 
Die volgende oggend staan ek vroeg op, make up en elke ding, ek druk my foon in my bra; Hierie oproep mag ek nie mis nie.  Vir hulle is dit nie ‘n groot ding nie, maar vir my is dit enorm, want net die aand voor dit het ek in my bybel-dag-stukkie-boek gelees: God spent years demonstrating submission, before He demonstrated miracles. Ons moes die eerste stap neem, en blindelings glo dat dit ‘n sukses sal wees en hierdie groot skenking was vir my die bewys dat God saam met ons in die ding is.    

Nou kyk, ek weet mense gooi dikwels ‘n geestelike sousie oor iets om aandag te trek of meer publisiteit te kry, en soms word bybelversies selfs gebruik om mense te manipuleer. . . sulke goed steek my ook dwars in die krop. . .  Maar laat ek julle nou vertel, ekt nie ‘n geestelike sousie nodig om die storie fancy of dramaties te laat klink nie. Ons dien die enigste lewende God, it is what it is.  As ek versuim om hierdie met julle te deel, probeer ek shine steel, wat my nie toekom nie.  All the glory to the KING.  Ons kan voorwaar getuig van 5 broodjies en 2 vissies. 

5 broodjies en 2 vissies is in die vorm van 500 Blue Ribbon brode by my huis afgelaai, dit was ‘n vriendin wat aangebied het om vir ons gesinne sop te kook, dit was 5 bakkie vragte vol kruideniers en groente, dis elke rand en elke sent wat gebruik word, om kos te koop.  Saam met hierdie pakkie vol basiese items, laai ons nie net iets af om mense se mae vol te maak nie, ons verpersoonlik iets vir hulle; Hoop, ‘n antwoord op gebed, goedheid en vertroue.   

Ons gesinne het binne 3 weke gegroei vanaf 30 na oor die 80 gesinne en ons trek nou by 100.  419 mense, waaronder 137 kindertjies.  5 brode en 2 vissies het meer geword, wanneer ons begin worry oor waar ons die kruideniers gaan kry om die volgende week se pakke op te maak, maar dan kom laai ‘n samaritaan iets af, of betaal ‘n geldjie in . . . en ons gaan deel weer uit. 

Ek kry nie meer tyd om die statistieke dop te hou nie, ek worry ook nie meer oor al die kontroversie rondom die virus nie.  Corona shirouma. . . Ons het groter dinge om mee te deal.

Planne van ‘n rustige tyd saam met my gesin, is holder-ste-bolder deurmekaar en onderstebo.  In die aand wanneer ek vir Carindi night sê, voel ek skuldig omdat ek nie vandag saam met haar die ABC-, of somme kon doen nie.  Ek besef soms dat ek nie eens vir haar middagete gemaak het nie. Sy moes seker maar by ouma gaan aanklop het vir iets om te eet.  Ek moet tyd afknyp om saam met Riana ‘n verf projekkie in te pas.  Wanneer ek by die waskamer inloop, vermy ek die bondel gefrommelde klere wat in die hoek lê en wag vir ‘n strykyster.  Ek mis vir Maria. 

Laat in die aand probeer ek opvang met boodskappe, tot my oë wil toeval en dan gaan slaap ek.  Ek droom van honderde en duisende vuil handjies wat na my uitstrek, van trollies vol toiletpapier, van toppers mince en bullybeef.  Ek voel so skuldig omdat ek nie weet hoe soya mince proe nie, dat ek tot een aand vir ons ‘n pakkie gaarmaak.  

Ek is moeg, tog voel ek so . . . fulfilled. 

Dit is moeilik om in iemand se oë te kyk wat met soveel moedeloosheid na jou terug staar.  Ek gaan laai nou die dag vir die eerste keer by ‘n nuwe gesin af. Toe ek daar stop besef ek dat hulle vir my moes gestaan en wag het.  ‘n Vrou in haar laat veertigs en haar seun, die man is weg om êrens ‘n los werkie te gaan doen.  Sy begin huil toe sy vir my vertel dat hul al 9 maande sonder krag is.  Ek hou my pose, maar oppad terug huistoe sukkel ek om van die knop in my keel ontslae te raak.  Dit vang ‘n mens.  Dis ook nie lekker om te hoor van ‘n gesin wat 2 dae laas geëet het, en toe maar by hul bure gaan tee drink het, net om ietsie in hul mae te kry nie.  Die aand by die huis, het ek geen eetlus nie. 

Aan die begin wou ek vies raak vir mense wat panic buying gaan doen het . . .  so asof die een dan nou verantwoordelik is, vir die ander een se swaarkry.  Kan ons regtig van die ou met die oorvol trollie verwag om sy hele buurt van swaarkry te probeer red?  Ek herinner myself daaraan;  You cannot fill from an empty cup.  Probeer net ‘n verskil maak, daar waar jy beweeg en weet; Alles wat jy het, is net genade. 

Die samehorigheid tussen ons dames, laat my hart warm klop.  Hoe wonderlik is dit nie om so ‘n band met iemand te deel nie?  Soms lag ons saam, en ons huil.  Ons is mense mense. Van ons is kwaai en kan maklik nee sê, ander is sag en dan is die kwaaies bang dat mense die sagtes se goedheid gaan uitbyt. Ons pas by mekaar aan.  Ons is ‘n span. Eendag sal ons kan terugkyk na hierdie tyd, seker met baie gemende gevoelens, maar ook met mooi herinneringe van groot genade.  Ladies, I salute you! 

Ek vertel graag vir mense, om altyd iets uit ‘n krisis te probeer neem, ‘n lewensles, ‘n vars perspektief.  Ons moet leef met ‘n ingesteldheid om altyd te wil groei, om beter te verstaan, dieper te delf, meer te gee, want hiermee voed ons ons menswees.  My uitkyk verander steeds, met elke ‘episode’ in my lewe, leer ek iets.   Sonder enige twyfel, het hierdie afgelope tyd ook my lewe kom verryk. Het onbekende mense my, rustige waters, kom roer, en het hulle my kom leer om nooit, maak nie saak hoe goed of sleg dit met jou gaan nie, dankbaar en nederig te bly.    

In ‘n stille oomblik sit ek op die stoep en kyk hoe Carindi speel. Sy is vuil, amper soos daai kindertjies in my droom, haar broek het ‘n winkelhaak in  . . maar sy lag kliphard en hardloop rond.  Syt alles wat sy nodig het, maar syt eintlik min nodig om haar gelukkig te maak.
Syt ook sommer intussen twee kapokkie tipe hoendertjies as ‘n geskenk by ‘n buur-tannie gekry. Te blerrie oulik, maar ek moet hul gereeld uitjaag, want hulle loop sommer in die huis rond, en spring op die banke.  Ons het eers gestry oor die name, want Catboy en Owlette pas net nie by hoenders nie, maar die goed moes name kry, want sy weet, as iets ‘n naam het, slag en eet ‘n mens hulle nie.  Welkom Poppie en Vlooi.

Noudat dit effens rustiger gaan en ons klomp dames in ‘n redelike roetine kom met pakkies uitdeel, sal ek ook hopelik weer tyd hê om saam met sussie die ABC en somme te kan doen.  Daar lê nog ‘n langpad voor, die graad R’etjies gaan mos eers weer oor tagtig maande terug skooltoe. (so voel dit vir my)  Ek sal my juffrou vaardighede moet opskerp, want die lesse wat die regte juffrou stuur, stroom in. Solank hierdie onderwysers net weet, ‘n kind moet nie net kan tel en spel nie. . . ek wil graag hê my Kakiebos-kind moet ook weet wat dit beteken om regtig om te gee, dankbaar te wees en om te deel.  

Waarvoor is jy dankbaar, vandag?


4 thoughts on “5 broodjies + 2 vissies = Genade

  1. Sjoe Carli, nou sit ek met knop in my keel en stoei om trane gesluk te kry…
    Omgee mens soos ek jou Ken v Hoerskool Dae af..
    Dankie vir jou Omgee en Liefde vir Ander! Mag Jesus jou en jou gesin en ook die Ander wat jou help dubbel en dwars terug seen!!
    Jou stukkie laat my dink…waarvoor is ek dankbaar vandag en my lysie raak lank!
    Liefde groete. xx

    Liked by 1 person

  2. Sjoe Carli, dit is wonderlik om te lees. Ek sit in ‘n ander land, hoor hoe mense gekeer word om vir honger mense kos te gaan gee, verloor hoop, weet ek moet terugkom by my mense, kan nie want die grense is toe. En ek sien horror stories vir party wat terugkom en in isolasie gesit word. En wonderlike stories van ander. En my hart krimp. Voel of dit vir altyd gaan aanhou. En dan lees ek dit. God seën jou. En nou man en kinders. En almal wat gehelp word. En ons wat lees. Dankbaar daar is mense soos jy.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s