‘n Blou Kruis

Dood is iets waaroor mense nie graag wil praat nie. Mense is bang vir die dood, party mense se grootste vrees is om iemand na aan hulle, te verloor. Ek verstaan dit. Ek wil ook nie graag iemand vir wie ek lief is, verloor nie.   En juis omdat die angel van die dood so skerp is en soveel letsels laat, het ek ‘n besluit geneem om dood as deel van hierdie lewe te aanvaar en dit so in te sien.  Ek probeer dit ook so oordra aan ons 6 jarige dogtertjie.  

Ons praat gereeld oor die dood. Ek wys vir haar die kruisies wat oorals langs die paaie geplant is, en verduidelik dan dat iemand hierso dood is. Van die kruisies ken ek, en dan vertel ek sommer vir haar die hele storie. So, het twee kruise langs die Moloto pad al vir haar ‘n landmerk geword. Sy weet Rochelle is daar dood, nadat ‘n bus in hulle vasgery het.  Maar ons raak nie meer hartseer daaroor nie, want eintlik is Rochelle ‘n ‘lucky girl’, sy bly nou mos by Liewe Jesus.  

Bietjie meer as ‘n maand terug, het ek en sy self ‘n kruis gaan opsit. ‘n Bloue vir Oom Chris.  Hierdie was close to home, letterlik en figuurlik.

3 en ‘n half jaar terug het ons plot toe trek, het hulle toe reeds daar gebly, want hulle het al by die vorige eienaars gehuur.  Carindi was maar 2 en ‘n half jaar oud. Haar vroegste herinneringe, sluit hulle in.  Chris en sy twee kinders.  ‘n Enkel pappa.  Dis nogal ‘n kruis om te dra.  Hy was ‘n growwe diamant, maar tog ‘n man met moral fiber. Met die min wat hy gehad het, was hy die beste este pa wat hy kon wees vir sy twee kinders. 

Ethan was 6 en Roxanne was 9 toe hulle deel geword het van ons lewens. Soos ‘n boetie en sussie vir Carindi.  En van tyd tot tyd, ook kinders in ons huis.  Om ‘n erf met iemand te deel, en steeds mekaar se privaatheid te respekteer, is nie altyd maklik nie.  Ek moes grense in plek stel, veral as speeltyd te lank raak en hulle beurte begin maak om stories aan te kom dra. 

Soms was ek dalk te streng, besef ek nou.  Noudat die erf so stil is en ek die gelag mis. 

Roxanne en Ethan het by twee geleenthede vir hulle ma in Witbank gaan kuier, maar sover ek weet, was sy nie verder veel betrokke nie.  Chris het my eendag vertel dat hy hul alleen grootmaak, vandat Ethan 9 maande oud was.  What a job?  Hence die morbal fiber wat ek in hom raakgesien het.  It takes a man on a horse, sê ek jou.  Hy het nog ‘n dogter, Chrizelle.  Sy is 17 en bly by haar ma en stiefpa.  Oulike meisie. Sy het so 2 of 3 keer vir haar pa kom kuier.  Ek het nooit gevra nie, maar ek dink nie Chris was met haar ma getroud nie.
Verder het ons nooit ander familie ontmoet nie. En ons het nie uitgevra nie, dis mos nie ons business nie.

Eendag vra Chris my om die kinders skooltoe te vat. Sy kar wil nie start nie.  Ek help hulle om die swaar tasse in en uit te laai.  Ek sien Ethan se tas is vodde.  Daar en dan besluit ek om vir hom ‘n nuwe tas te koop.  Ek hou die kinders dop. Kom agter dat daar nie ‘n groot verskeidenheid van klere is nie.  Ek gaan koop nou en dan iets, of soms bedel ek sommer by mense in die gemeenskap iets vir ‘n 10 jarige seuntjie en ‘n 12 jarige meisie.  Min mense het geweet dis vir iemand op my eie erf.  Wanneer ek en Carel vermoed daars nie kos nie, dan maak ons ‘n pakkie op.  Wanneer Chris nie al sy huur kon betaal nie, kom sit hy by Carel op die stoep, en maak sy hart oop . . .

Wanneer ons bou en breek, sement gooi, of pale plant dan is hy daar om ‘n hand by te sit. Hy wou graag help, soms tot groot frustrusie vir Carel, want dan word daar baie nonsens gepraat en neem die werk langer. Hy was goed daarmee om goed te fix, want hy het altyd ‘n plan gehad en hy het geweet van raap en skraap.  Met Carindi se laaste verjaarsdag het hy en Ethan vir haar die mooiste geskenke gemaak. Self gemaak, met die hand, uit skroewe en kabels en goeters wat hul aanmekaar gesweiss het. Ons besef dis omdat daar nie ‘n geldjie was om ‘n geskenk te kon koop nie, maar dit maak nie saak nie. Dit het ‘n spesiale staanplek in haar kamer gekry en ons spog gereeld daarmee.  Veral nou.

Sy verhouding met Redson, was iets besonders.  Redson en Geo is twee broers van Malawi wat vir ons werk.  Ons het vir Redson ook saam met die plot geerf.  Geo het later gekom.  Hulle 2 kom al ‘n langpad.  Party aande wanneer ek in die kombuis gestaan en kosmaak het, kon ek deur die venster sien hoe loop Chris met ‘n butternut of koolkop onder die arm na Redson toe.  Ek vermoed Redson het ook al in die verlede vir hom iets aangedra, soos spinasie of meel dalk.  Toe my skoonma’le op die plot kom bly, was hulle bure. Chris het van my skoonma en skoonpa gepraat as ouma en oupa.  Die kinders het gereeld ‘ouma’ se arm gedraai vir cupcakes of ‘n potjie RummiKub. 

Vir ‘n wyle het Chris ‘n meisie gehad. Roxanne en Ethan het baie van haar gehou. Ethan het haar selfs mamma genoem.  Sy was ‘n paar maande hier, en toe is sy ook weer weg.  Ek het geweet die kinders smag na ‘n mamma, maar ek weet nie eintlik hoe om vir iemand anders se kinders ‘n ma te wees nie.  Ek glo ook darem nie dat iemand meer van my verwag het, as wat ek gegee het nie.  ‘Carli, kan ek maar vir Roxy na jou toe stuur?  Dit gaan oor vrouegoed’ het hy eenkeer vir my gewhatsapp. My eie dogtertjie is nog ver van daar af, maar ek het ‘n test run gehad toe ek vir Roxanne moes doekies uitdeel en ‘n bietjie moes gesels.  

Wanneer my suster met haar kinders kom kuier het, was die erf baie bedrywig.  Renelle se seuntjie, Reuben, en Ethan is eintlik ‘n tweeling het ons later besef.  Selle dag en selle jaar.  (Die dat ek daardie dag sy geboorte datum so vinnig vir die ambulans ouens kon gee.)  Hulle was sulke lekker tjommies.  In lockdown het my skoonsus haar twee seuns ook vir ‘n rukkie gebring om by ouma en oupa te kom kuier, en dan was dit ook ‘n groot gejollery.  Ek sal in die studeerkamer sit en werk, en dan moet ek met tye skree ‘Sagter julle’ Stadiger julle’ ‘Moenie so hoog in die boom klim nie’ ‘Pasop’ 

Nou is dit so stil. 

Om en by 11uur die oggend, op die 12de Julie, kom daar ‘n call op ons handradio deur;  Daar was ‘n ongeluk op Tambotie.  Dis ernstig.  Die bakkie lê op sy dak en iemand sit vas.  Ons bly in Tambotie.  Carel spring in sy bakkie en ry.  Ek maak nog my skoene vas en stuur vir Carindi na ouma’le toe, voordat ek ook in my kar klim en ry. 

Close to home.  Seker 800m. Min het ons geweet wie ons daar sou kry. 

Dit is so, ons was van die eerstes op toneel.  Ek, ‘n kort kop na Carel.  Toe ek daar kom, lê Carel plat op die grond, met sy arms by die onderste bo bakkie se venster ingedruk.  Hy voel vir ‘n pols.  NIKS. Deur die warboel van dinge het my man nie dadelik gesnap dat dit Chris is wie se hand hy nou net vasgevat het nie.  Totdat hy vir Ethan op die grond sien lê.  Hy het uitgeval of uitgeklim, who knows. . . Hy het baie seer. 

‘Tannie Carli’ ‘Tannie Carli’  

‘Ja boeta, ek is hier, moenie worry nie, hoor’ 

Ai Here . . .

Vandag, is hierdie ons business, het ek besef. Of ons nou kans sien of nie.

Ons bel my ma en pa met die nuus, vra vir hulle om te gaan kyk of Roxanne by die huis is.  Hulle moet haar asseblief gaan haal en by hulle hou, totdat ek daar kom.  Riana en Waldu moet ‘n kuiertjie by haar ouers kort knip om die ambulans by die hospitaal te gaan inwag.  Ons wil nie hê Ethan moet alleen wees nie.  

Carel spandeer lang ure op toneel.  Haal die sakkies met kruideniers wat Chris en Ethan gaan koop het, uit die kar.  ‘n Opgefrommelde boks Kellogs, boksie melk, voëltjie kos, bierbekertjie-mosterd, chocolates en chippies. Hy wag dat forensies fotos kom neem en RGL die liggaam kom haal.  Al was dit nie maklik nie, dit was die laaste ding wat hy vir Chris kon doen. 

Ek en ‘n dierbare vriendin, wat saam met my berading doen, ry huistoe om die nuus aan Roxanne oor te dra. Pleks dit maar weer doekies was wat ek moes uitdeel.  Dis erg om vir ‘n dogtertjie van 12 te vertel haar pappa is dood! Ek, Roxanne en Cecile huil! 

Sy gee vir my ‘n string name met nommers om te bel.  Mense wat ek nie ken nie.  Onder andere Oom Christo, Chris se pa. En Sunette, die kinders se ma. 

. . .

Oppad hospitaal toe, bid ek my bewerigheid weg, bid ek vir ‘n gelyk pad, bid ek vir vrede en rustigheid. 

Waldu-hulle kry my daar, hulle het by Ethan gebly totdat ek daar kom. Petrus ons GPF Voorsitter bring vir my sy selfoon se powerbank, want my foon is pap en die aand kan dalk lank raak.   

‘n Baie oulike Suster, kry opdrag om by te staan, terwyl ek met Ethan praat. Hy het dit seker verwag. Hy knyp sy oë styffff toe en sonder om ‘n geluid te maak, rol die trane teen die kante van sy vuil gesiggie af.  Sy klere is vol stof en stukkend gesny, soos wat die peramedics by die besering aan sy been moes uitkom en drip moes insit.  Sy beentjie is beseer, ‘n gaatjie aan weerskante, asof iets sy been gepenetreer het.  Verder het hy ‘n groot sny op sy voorkop en . . . sy hart is stukkend.

Chris se oudste dogter kom onverwags daar aan.  Haar ouers het met haar deurgery om te kom kyk of Ethan en Roxanne okay is. Sy word vir ‘n rukkie by hom toegelaat.  Die trane loop. 


Ek sit by hom, hou sy vuil handjie vas, terwyl ons vir sy oupa-hulle wag.  Ek vra hom uit oor die ongeluk.  Hy vertel vir my dat sy pappa ‘n epileptiese aanval gekry het, toe hulle van die winkel af, oppad was huistoe.  Dat hy met die onwillekeurige trekkings die petrolpedaal plat getrap het en met ‘n hoë spoed teen die grondwal langs die pad opgery het. Die bakkie het ‘n boom getref en toe op sy dak geland.  ‘Tannie Carli, ek het geweet ons gaan crash’, vertel hy.

Toe Oom Christo en van die ander familie daar opdaag, staan ek terug. Hul sorteer dinge by die hospitaal uit en reël om hom saam met hulle huistoe te vat.  Ek stoot hom in ‘n rolstoel na sy oom se kar toe, voordat ek groet.


Daardie aand het my en hom met ‘n onsigbare band aan mekaar kom vasmaak. 

Toe ek, net voor 10, die aand by die huis kom het Carindi al geslaap.  Ek wou so graag met haar gesels.  Hoe ervaar sy die dinge? Wat gaan deur haar koppie?  Haar emosionele welstand is vir my bitter belangrik.  Die volgende oggend het ek ‘n punt daarvan gemaak om met haar te praat.  Ons het gepraat oor die hemel en oor kruise langs die pad, oor mense wat nie noodwendig altyd deel van jou lewe sal wees nie. 

In die week wat volg het Carel en myself aangebied om te help waar ons kan.  Daagliks kontak gemaak om te hoor hoe dit met die kinders gaan.  Carel het vir Redson gekontak, wat toe in Malawi was met sy jaarlikse verlof.  Hy was ongelooflik hartseer en onsteld. Hy vertel vir Carel dat Chris, die dag voordat hy vertrek het, vir hom ‘n paar skoene gegee het. Hoe Chris vir hom gesê het; ‘My brother, this is for you, to remember me’.  Tussen my en Carindi besluit ons om ‘n kruis te gaan opsit, ook vir onthou.  Waldu maak die kruis en ek en sussie spray paint hom blou.  Ons reël met die mense op wie se ‘sypaadjie’ die ongeluk gebeur het, om daar ‘n draai te gaan maak.  Ek vat vir Geo saam met ons.  Hy tel die laaste glas stukkies en skrapnel op wat nog rond lê, terwyl ek en Carindi die kruis teen een van die groot bome vassit.  ‘Ons ry mos elke dag hier verby, mamma.  Nou sal ons onthou’.

Ek het alleen Boksburg toe gery vir die roudiens, my man moes ‘n belangrike vergadering bywoon. Ek vat vir Ethan en Roxanne ‘n boks met paar goedjies in, saam.  Onder andere die chocolates wat Ethan en sy pa tydens hul laaste inkopies saam gekoop het, Chris se zippo, horlosie, bril en ‘n silwer ketting wat Carel van sy nek afgehaal het, voordat hul sy liggaam verwyder het.  Covid het baie dinge kom opdonner, ook begrafnisse en rou dienste. Daar was bitter min mense, net ‘n ou handjie vol.  Sunette, die kinders se ma is nie daar nie.  Die 2 kinders sit alleen voor in die kerk, op hulle eie bankie. Die res van die familie sit in die rye agter hulle. Ek vra nie vrae nie, want dis nie my business nie.  Toe die liedjie Houtkruis van Prophet deur die klank sisteem speel, begin Ethan huil.  Niemand om hom te comfort nie. Ek verstaan nie hoekom iemand die nood nie raaksien en die hartseer oomblik onderskep nie.  Net voordat ek wou opstaan om by hulle te gaan sit, staan Chrizelle, die oudste (half)sussie op en gaan haal hulle om by haar en haar ouers te sit.  Sy dra ‘n huilende Ethan soos ‘n baba. 

Dankie Here, dink ek.  

Halfpad deur die diens staan Ethan op, seker om badkamer toe te gaan.  Oppad terug draai hy by my rytjie in en kom sit styf langs my.  Ek hou hom vas, ek soen hom op sy kop.  Hy hou sy pappa se silwer kettinkie in sy hand vas. My hart breek in ‘n duisend stukke. 

Die dag na die diens, kom die familie met die kinders op die plot aan, om die huis te ontruim.  Ek werk maar van die huis af die dag, vir in case iemand my nodig het.  Nou en dan gaan hoor ek of hul nog regkom.  Ek staan op die kantlyn, want ek ken mos nie die mense nie. Ek herken skaars die twee wit-om-die-kiewe, verwarde kinders wat verby my beweeg. Al wat ek hoor is: ‘Wil julle dit nog hê? Ja of nee?’  ‘Okay, dan gooi ons dit weg’. Ek byt op my tande, draai om en loop.  Dit wat hul gehad het, was nie hul beste nie, dit was hul enigste. Ek besef die goedjies is afgeleef en oud en baie daarvan seker maar hand-me-downs, MAAR dis waarmee hierdie twee kinders geleef het.  Dit was hulle beddens en hulle lakens en hulle couches en die gechipte koffie bekers was dit waaruit hulle elke dag gedrink het.  Dit wat ander mense, sonder skroom, junk noem, was hierdie kinders se lewe.  Iets het daardie dag in my oorgekook, en toe vasgebrand.   

Ethan se fiets bly agter, want daars nie plek vir hom nie.  Die fiets waarop hy elke dag so lekker gery het.  Die tweedehandse fiets wat Chris met afknyp geld vir hom gekoop het.  Die kat en voëltjies moet ook bly.   

Toe ek sien hul opruim-operasie staan einde se kant toe, noem ek aan hulle dat ek gou vir Carindi by die skool wil gaan haal sodat sy haar maatjies kan groet.  Oppad terug huistoe kry ons hul, net betyds, op die grondpad. Ek gooi ligte en gaan stop my kar feitlik voor hulle. Soos twee puppets bly die kinders agter in die kar sit. Roxanne met haar geliefde Nuschka hondjie op haar skoot. Ek kan aflei die ‘oom’ en ‘tannie’ is haastig. Carindi klim uit, loop om die kar en gee hul elkeen ‘n drukkie. Vir die eerste keer na Chris se dood is dit asof die dinge Carindi wil oorweldig. Ons staan skaars 50m van die toneel af waar die ongeluk gebeur het, waar die blou kruis teen die boom vasgespyker is.  Wat ek nie sou gee om net vir ‘n paar minute daar saam met hulle te gaan staan nie.  Om dalk te bid, of net iets. . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . . Carindi se emosionele welstand is vir my belangrik, maar nie net hare nie. Maar is dit my plek? 

Ek het nie uit woorde gehardloop nie.  Daar gaan ‘n duisend dinge deur my kop. Is hierdie my business?  Ek weet nie.  Vir mense wat my ken as iemand wat nie bang is om haar mind te speak nie . . . hier is dit nou, die bewys, dat ek wel soms net niks wil of kan sê nie.  Met tye wil die worry my so oorweldig, is dit asof ek ‘n kruis dra.  Een met twee kinder name daarop.

Ons het intussen gehoor dat Roxanne en Ethan nou by hul ma en haar man in Witbank bly.  Hulle het ook ‘n baba sussie van 2 jaartjies. Ek het gister die moed bymekaar geskraap en vir Sunettte gebel. Sy gesels maklik.  Ek kan aflei dat dit vir haar en vir hulle ‘n aanpassing is.  Hulle leer mekaar nou eers regtig ken.  Maar sy sê dit gaan goed.  Dit laat my beter voel.  Nou en dan wanneer die kinders data op hul fone het, dan whatsapp hulle self vir my of vir Carel om hello te sê.  Ons het belowe om hulle nou en dan vir ‘n naweek te gaan haal en dis ‘n belofte wat ons nie wil breek nie.  Sodra die familie instem en ‘n datum kan vasmaak, gaan ons hulle haal. Ek wil hul so graag help om closure te kry.  Dalk saam met hulle êrens op die plot ‘n boom plant. 

Chris se dood en alles rondom die kinders het ‘n knoop in my kop kom los wikkel.  ‘n Defnitiewe kruis kom trek deur ‘n paar dinge waaroor ek al baie gewonder het.  Die skerp angel van die dood word net sagter en ronder, as dit reg hanteer, benader en verwerk word.  Dis ons werk as grootmense om ‘n traumatiese gebeurtenis in kinders se lewens te onderskep en hul te help om daardeur te werk. 

Moet nooit die impak wat jy in iemand se lewe kan maak, onderskat nie. Moenie hierdie lewe verlaat sonder om spore te los nie. 

Vir 3 en ‘n half jaar, kon ons deel wees van Ethan, Roxanne en Chris se lewens. . . het ons stories stukkies van mekaar daarin. 

Sag rus, Chris Neveling.


NASKRIF:

Ek skryf vir MY, dis MY terapie. 

Hierdie stuk is nie bedoel om skade te doen of om te oordeel nie.  Dit is hulle storie, maar dis ook deel van ons gesin se storie. Ek het geen kwade gevoelens nie, want dis nie my business nie.  Ek lê die kruis voor Hom neer en vertrou dat dit met Ethan en Roxanne sal goedgaan.  Ek bid vir elke familielid wat tans in hul lewens betrokke is, vir liefde, empatie, insig en wysheid.

13 thoughts on “‘n Blou Kruis

  1. Sjoe liewe Carli. Wat n hartseer maar pragtige verhaal. Ons het jou as jong oënskynlik sorgelose girlie ontmoet. Jou paaie self was baie bumpie en ook vol hartseer maar jy het met jou sterk geloof daai bumps plat gestootskraap. Wat n lieflike sterk vrou en ma is jy nou. Mag Jesus jou altyd met Sy sterk arms omvou en dra sodat jy kan aanhou om die verskille in needy mense se lewens kan maak. Carindi is die mooiste dogtertjie. Blessings 💞💫

    Like

  2. Dankie Carli. Het nou di gehuil oor die tragedie. Wonderlik hoe die Here julle gebruik. My hartseer is ook omdat daar soveel gebroke verhoudings is waar die ouers en kinders leef maar as gevolg van “entitlement “ , hardkoppigheid en scapegoating is daar geen genade en vergifnis nie Al wat mens kan doen is bid, glo en vertrou op ons Trooster.

    Like

    1. Dis waar, tannie. Hierdie is maar een geval wat my pad gekruis het en waarmee ek te doen gehad het. Hoe baie soortgelyke sitsuasies is daar nie? Op ‘n manier goed dat mens nie van als weet nie. Ons sal nie ‘n oog toemaak in die aand nie.
      Ons kan net bid dat God oorals iemand het, wat kan intree, optree en help.

      Like

  3. Dankie dat jy jou storie met ons gedeel het.
    Mens mag dalk nooit op die oomblik besef watse impak jou klein onselfsugtige gebare teenoor ander het op hulle lewens nie, maar glo my dit het.
    Ons is God se engele hier op die aarde. daar waar jy ‘n verskil kan maak doen dit.
    Hierdie kinders sal nooit die impak wat jy op hulle lewe gehad het vergeet nie.
    Dankie weer & ‘n stywe drukkie vir jou terwyl ook jy deur hierdie hartseer en verlies werk.
    Jy moet ‘n wonderlike geseende dag he

    Like

  4. My hart is sommer seer en ek huil saam jou.
    Die lewe is soms so onverstaanbaar ……..so hard.
    Mag die 2 kinders eendag terug kyk en die goue drafe van God se genade in hulle stukkende lewe geweef vasgeweefsien, hulle sal ook onthou van die aardse “engele” wat hulle opgetel het, wat altyd daar was vir hille…………..

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s