Sonder Vlek of Rimpel

Mens kan ‘n hele boek skryf, maar nes ‘n foto soms nie die diepte en mooi van iets kan vasvat nie, so kan emosie ook nie regtig op ‘n stuk papier of rekenaarskerm verwoord word nie. 

Ekt gewonder; Vertel ‘n mens die storie, deel mens bloot die herinneringe of bring mens hulde? 

Waar begin ‘n mens? 

Hoe pas ‘n mens so ‘n gewigtige storie in ‘n skryfstuk en gee dit ‘n titel? 

Watse titel sal gepas wees? 

My potlood is stomp, maar skryf moet ek skryf, want saam met die skryf begin die knope in my hart en kop los wikkel.  Werk ek deur ‘n rou proses en dis ook hopelik waar genesing begin.  Dit help mos om ‘n sweer oop te maak, die pleister af te trek en die seer kans te gee om ‘n rofie te vorm. 

Ek gaan nie om verskoning vra vir enige iets wat ek hier deel nie.  Dis reguit en eerlik, dis rou en opreg. As jy nie kans sien vir die Dad-en-Skattie-Afskeid nie, druk die kruisie, regs bo op die skerm.  En as jy my tipe mens is, hark jy die boks Kleenex nader, bid jy vir almal wat struggle met die dood van ‘n geliefde en vra jy ook sommer vir die Here om jou hart voor te berei op dit wat ookal nog vir jou op jou pad voorlê.  En hiermee spreek ek niks op niemand uit nie, ek weet maar net dat niemand hartseer kan fnuik nie.  Duisende mense verloor daagliks geliefdes, ek is nie die eerste een nie, ek weet dit.  My storie is nie special nie.  Maar dis MY storie, dis MY Pappa en hy mag nooit vergeet word nie. 

Baie van my vriende ken die storie, ander het bloot die blog gelees wat ek in 2019 oor my pa geskryf het.  Ons het ‘n storie, en soos in almal se boeke, het ons ook maar ‘n hoofstuk wat ons nie graag hardop wil lees nie.  Maar ek kan in alle eerlikheid sê dat vergifnis en liefde die minder goeie dinge kom uitvee het.  Long gone, verby.  Hoe dit ookal sy, die feit dat ons met tye ‘n moeilike paadjie geloop het, is nie nuwe nuus nie, maar ek wil spesifiek praat oor die laaste jaar of so. 

Covid het baie dinge kom opdonner.  Bejaardes in TeHuise het bitter swaargekry.  Hul geliefdes kon nie by hul uitkom nie, en ek dink dit moes baie verwarring en moontlike verwerping veroorsaak het.  Sad ne?  As mens nie ‘n ma of pa, of ouma en oupa in ‘n TeHuis het nie, sou mens seker nie eens daaraan gedink het nie, want dan raak dit jou nie. Wel, dieselfde het met ons en my Pa gebeur.  Kuiertjies moes deur die palisades gebeur, en in ag genome my Pa se kondisie, was dit eintlik meer traumaties, want hy kon dit nie verstaan nie.  2020 het baie tyd by ons kom steel.  Tussen Alzheimers en Covid het ons boek nie eintlik ‘n kans gestaan op ‘n mooi hoofstuk nie.   

Op die 14de Augustus het ek van die een tuisnywerheid na die ander gery om 90 stukkies koek te koop.  Ek het dit vir my Pa se verjaarsdag by die Ouetehuis gaan aflaai.  The man of the hour was eintlik nie bewus van die rede vir die klomp koek nie. Hy het aan die anderkant van die hek gestaan, maskertjie wat so skeef oor sy gesig hang en vir my gewaai.  Ai Pappa. . . as ek maar geweet het, dit was die laaste verjaasdag, dan het ek die flippen hek afgebreek om by jou uit te kom.  Ek het ‘n foto geneem. . . en die afgelope paar dae seker al 80 keer na daardie foto gestaar. 

So kan ek deur die albums op my foon gaan en na al die fototjies van my Pa gaan kyk. Ja, die OCD mens in my sorteer actually die fotos op my foon uit en save dit dan onder ‘n spesifieke folder.  Ek hou daarvan om georganiseerd te wees, om al my eendjies in ‘n ry te hê.  Ek kan met ander woorde, gaan kyk wanneer is ‘n spesifieke foto geneem of vir my gestuur. Die 24ste November is ons ‘n kontak besoek toegelaat.  Ek en Pappa het gelag en gesels, in sirkels gepraat, maar die paar minute was kosbaar.  Die tweede week in Desember het ek weer gaan kuier, net so voor ons weg is met vakansie.  Ekt as Kersgeskenk ‘n boks koekies saamgevat en ‘n boksie met BRUT aftershave en deodorant, die groen een.  Dit was ‘n moeilike dag. Pappa was glad nie spraak saam nie, en ek het vining weer gegroet.  Tot my spyt het ek nie daardie dag ‘n foto geneem nie, maar ek kan goed onthou hoe hy gelyk het en hoe hy vir my gekyk het.  Sy oë het nog geblink.   

‘n Nuwe Covid geval by die Ouetehuis het gesorg vir nog ‘n GEEN BESOEK reël.  Erens in Februarie is my Pa se kamermaat ook positief getoets en Amonique (die maatskaplike werker) het my gebel om te verduidelik dat my Pa in isolasie geplaas is totdat sy uitslae beskikbaar is.  Dit moes baie moeilik vir hom gewees het. 

Ek het baie vir jou gebid, Dad. BAIE!  Ekt die Here gevra om jou vas te hou, seker te maak dat jy nooit alleen voel nie. 

En toe op die 2de Maart bel ek hulle om ‘n besoek te reël.  Amonique sê vir my, dat sy juis van plan was om my te kontak.  Sy vertel my van ‘n paar insidente en vra my om hulle te kom sien. 

8 Maart: Carli, ons kan nie meer na jou Dad omsien nie, sy toestand het aansienlik versleg.  Uit frustrasie raak hy buierig, hy wil nie meer eet nie en hy wil nie meer bad of shower nie. Julle gaan hom moet skuif na ‘n fasiliteit toe wat spesifiek na Alzheimer mensies omsien.  Ek het geweet die dag gaan kom, ek het net nie besef so vinnig nie. 

Daardie dag sien ek hom toe ook weer vir die eerste keer in 3 maande. 

HY LYK ANDERS!!!!!!!!!!!! Sy oë is glaserig en diep in hul kaste gesink, hy skuifel sy voete as hy loop en moes dus ondersteun word om mooi te kan stap, hy het ‘n stoppelbaard . . . en hy het nie meer beheer oor sy blaas nie. Dit is bitter moeilik om my Pa so te sien.  Ek hou sy hand vas, bogger die ‘no touching’ reël.  Ek gee hom ‘n drukkie en hy hou my daai rukkie langer vas, asof hy nie wil los nie.  Hy stel belang in my doen en late. Vra uit oor ‘n paar goed.  ‘Werk jou man nog by die hospital?’  ‘Ja Pappa, hy doen’.  Hy is sag, hy is liefdevol, hy is onskuldig, maar hy kyk na my en in daardie glaserige oë, sien ek ‘n duisend vraagtekens.  Hy is verward. Maar hy is steeds my DAD!!!

EK IS VERPLETTER.  Hoe vertel ‘n mens dit vir jou sussie?

Here, my Pappa was klaar besig om ons te verlaat. Dit besef ek nou.  Noudat ek teruggaan en kyk na die fotos.  Die massiewe verskil tussen 24 November en 8 Maart. . . Ek kan dit eintlik nie glo nie.  Ek blameer die feit dat ek ‘n halwe glas, altyd as half vol sien, hiervoor. Ek het dit gemis, want ek wou positief wees.  Ek was blind vir my Pa se siekte en swakheid. 

Ek sluit my sussie nie met opset uit die verhaal nie, maar ek kan nie vir Renelle praat nie.  Ek wil ook nie. Sy stap haar eie paadjie, en kan haar eie weergawe van al die dinge neerpen, as sy sou wou.  Syt self deur diep water gegaan in die tyd, maar ons het een groot gemene deler tussen ons gehad en dit was die welstand van ons Pa. 

Op ‘n wonderlike manier het die Here al in 2020 my paaie met die eienaars van Blymoedig Kliniek laat kruis.  Ons het mekaar leer ken deur die kospakkie projek.  Blymoedig is ‘n Kliniek wat spesialiseer in die versorging van mensies met Alzheimers en Dementia.  Ek bel vir Miranda en die 9 de Maart gaan sien ek hulle.  Die personeel verduidelik alles so mooi.  Hulle stel my gerus en ons reël om hom die 26ste Maart daar in te check. Hulle wys my rond.  Ons stap deur die tuin en ek sien toe al hoe ek en my Pa by die bankies onder die bome gaan sit en kuier. Ek sou hom meer kon sien, want dis lekker naby.  Ek sou vir Carindi voorberei op die feit dat Oupa haar dalk nie meer ken nie, maar ek sou haar saam vat wanneer ons gaan kuier.  Hy sou haar so geniet het.  Ek sou vir ons draai roomyse gaan koop het.  Ek sou, ek wou, ek het beplan. . . Ek is tevrede want ek weet ek doen die regte ding. My liefste iefste man, verseker my, ons sal die finansiele kostes dra. Ek moenie worry nie.

Die suster by die kliniek sê vir my dis in die pasiente se beste belange dat die familie vir die eerste twee weke, nadat hul daar opgeneem word, nie gaan kuier nie, want dit gee hulle tyd om in te settle.  En vir daardie rede besluit ek en Carel toe dat ons nie ons beplande wegbreek saam met ons 4×4 vriende gaan kanselleer nie, want as ons terugkom is die tyd verby en kan ek dadelik gaan kuier.   

Ek begin deur die magdom dokumentasie werk.  Vul in, voltooi, teken. Gesertifiseerde dit en gestempelde dat.  Maar ek doen dit met liefde, want ek besef dis dalk die laaste skuif.  Intussen, bid ek aanhoudend vir my Pa. . . Here, maak hom asseblief rustig.  Here, verseker hom van U nabyheid en liefde.  Here, hou hom vas. Here, maak asseblief hierdie moeilike paadjie ‘n kort een, want ek wil nie eendag ‘n bedlêende Pappa hê wat voeding deur ‘n buis moet kry nie. Jip, ek het dit vir die Here gevra, omdat ek my Pa verdere vernedering van Alzheimers wou spaar, omdat ek hom die rus gun, omdat dit swaar is om hom so te sien.

Vir 3 weke lank is ek ELKE DAG besig met goedjies van- en goedjies vir my Pa. Ek gaan deur die lys van benodighede, klere, toiletries, medikasie en dinge wat mens alles moet saamstuur.  Renelle bestel vir ons lables met sy naam daarop wat mens aanstryk, en my dierbare Maria ousie stryk die lables op elke stukkie kleding van Oupa vas. Ekt feitlik alles nuut gaan koop.  Ek doen inkopies, ek ry rond tussen Kliniek en Ouetehuis met papierwerk, ek sien hom toe ook sommer ‘n paar keer.  Een van die kere was ook die eerste keer wat hy my nie geken het nie.  Ek het ‘n inskrywing daaroor op my facebook profile gesit (sien dit as foto by die stuk ingesluit) . . . As ek nou daaraan terug dink, was dit ‘n absolute blessing.  Die Here het vir ons tyd gegee. 

DANKIE HERE, vir daai laaste kuiertjies!!!!!

Toevallig is ek eendag tydens etenstyd by die Ouetehuis.  Die kos-vroutjie kom vra my of ek nie by my Pa wil sit en kyk of ek hom kan kry om te eet nie.  Sy sit die bord met ‘n burger, chippies en slaai voor hom neer.  Hy skud sy kop.  Ek bargain met hom.  ‘Pappa, eet asseblief net die chippies’.  En terwyl ek langs hom sit, doen hy dit.  Hy vertel my selfs ‘n staaltjie van ‘n Porra Café uit sy jong jare wat sulke lekker slap tjips gemaak het. 

Die 26ste Maart gaan haal ek en Renelle hom.  Ek het die vorige dag al, sy klere en die ander benodighede by die kliniek gaan aflaai en by die Ouetehuis het ek ‘n nuwe stelletjie klere gaan afgee met die instruksie dat hulle dit vir hom die volgende oggend sal aantrek.  Hy moet darem mooi lyk as hy by die nuwe plek aankom.  En hy het!!! Hy het baie mooi gelyk en hy was rustig. Amonique en Annaliese was albei emosioneel toe hul hom groet.  Hulle het soveel omgegee vir my Pa.  Selfs op sy moeilikste dae, het hulle hom altyd met respek en liefde hanteer.  ‘Die mees polite’ste mens wat ek ken’, dis hoe Annaliese my pa beskryf het. 

‘Is jy Stella?’, vra hy vir Renelle.

Renelle, Renelle . . . my arme sussie!!!! Die agteruitgang het haar onkant gevang.  Ekt dit verwag en ekt haar daarop probeer voorberei. . . maar niks kan mens eintlik op so iets voorberei nie.  Jy moet maar deal met dit wat jou oë inneem.  Die glaserigheid in sy oë het haar vasgevang en ontstel.  My hart het so uitgegaan na haar, op daardie dag.  Syt saam met hom agter in die bakkie gesit.  Heelpad sy hand vasgehou.  Ons het grappies gemaak en hy het saam gelag. Ons het verduidelik dat ons hom na ‘n nuwe tuiste toe vat, ek dink hyt verstaan.  ‘My wêreldjie het so klein geword, dis nie maklik nie’ het my op ‘n stadium gesê.  Mens kon nie anders as om net lief vir hom te wees nie.  ‘n Nuwe tipe sagtheid het in my Pa kom nesskop.  Hy was onskuldig soos ‘n klein kindjie en gestroop van enige materiele dinge.  Niks het tussen hom en God gestaan nie. 

Oppad het ek by Steers uitgespring om 3 draai roomyse te koop.  My Pa was nog altyd lief vir die Here en vir Ice cream.  Daarna het ons vining by die kantoor gestop om die negatiewe Covid toets, wat Carel vir my geprint het, op te laai.  Ons kon hom nie by die Kliniek in check sonder hierdie papier nie.  Carel het buitentoe geloop en by die oop venster het hy my Pa gegroet.  Ekt langs Carel gestaan en my Pa het vir Carel gekyk en toe sy kop na my gedraai;  ‘Skattie, nou wie is die?’  ‘Dis Carel, my man, Pappa’ 

Op die grondpad ‘n entjie voor die Kliniek het ons gestop, ekt sy hand vasgehou en hom gehelp om die maer beentjies te swaai en uit te klim. Ons het ‘n paar fotos geneem. 
Ons laaste fotos.

Op versoek van die personeel by die kliniek het ons nie te lank getalm nie.  Sello, ‘n verpleër het my Pa aan die hand kom vat en met sy ander arm het hy my Pa om sy middel ondersteun en hom daar weggelei na die groot kuier saal toe.  Ons het hul agterna gestaar.  My Pa het in die deur van die groot saal gaan stil staan en sy twee arms in die lug geswaai om almal te groet.  Dit was baie baie baie special.

Ons het omgedraai en gery. . . Dit was die laaste keer !!!

Die daarop volgende week het die Kliniek my gebel en my gevra om vir hom, ‘n Lifegain Shake te gaan koop en ekt dit by hulle gaan aflaai.  Hy wou nie eet nie.  Hyt vir die eerste twee dae aanhoudend gevra, waar is ek. 

Ai, Pappa !!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!  Jy was die heeltyd in my gedagtes en gebede. 

Ek het uitgesien daarna om Pappa die 12de April te sien . . . Min het ek geweet, die 12de April 2021, sal vir ewig in my brein gebrandmerk wees as die dag van Pappa se verassing.   

Laat’erig die aand voor ons met vakansie vertrek, epos ek die mense by Blymoedig, net om seker te maak dat hul weet, ek gaan nie hier wees nie.  As daar probleme is en hul kry my nie in die hande nie, moet hulle asseblief vir Renelle bel.  Die volgende oggend 5uur het ons saam met ons 4×4 vriende in die pad geval vir ‘n vakansie tussen die berge in die Oos-Kaap.  Die sein was swak, veral by die lodge waar ons gekamp het.  Die sondag (4 April), toe ons van ons roete afkom, ongeveer 16:00, het ek en paar van die dames in ‘n kringetjie gesit en gesels.  Madelein het my gevra hoe gaan dit met my Pa, en ekt so bietjie van die storie met haar gedeel . . . nie geweet wat toe besig is om in Pretoria te gebeur nie.   

16:42 het Renelle die oproep gekry.  Time of death: 16:35. 

Sy was by vriende in Krugersdorp en hul het dadelik deurgery Kliniek toe. Sello het my pa gehelp om sy pajamies aan te trek, hyt op die bed gesit en moes opstaan sodat hul sy broek kon optrek.  Hyt opgestaan, maar weer net so neergesak en dit was onmiddelik verby. Net so . . . Net so, het die Here hom kom haal. 

God het die strepie getrek en gesê:
NO MORE SUFFERING.
NO MORE PAIN.
NO MORE HUMILIATION AT THE HANDS OF ALZHEIMERS.
Nie een van hierdie dinge sal verder ‘n houvas op jou hê nie.
Op hierdie opstandingsdag, kom haal Ek jou, Willie.
KOM HUISTOE, Ek het ‘n plek vir jou voorberei . . . Kom Hallelujah hier in die hemel !!!

My arme sussie, moes langs sy liggaampie wag vir Avbob om hom te kom haal. 
Jammer Ren, dat ek nie daar was nie!

Maandag oggend, toe ons die kamp verlaat om ‘n nuwe roete te gaan ry, het ek agter die stuurwiel ingeskuif.  Ek moet ook mos ‘n beurt kry.  Soos wat ons ry en selfoon opvangs kry, gaan altwee die fone mal.  Omdat ek bestuur, vat Carel my foon begin daardeur gaan, maar ons verloor weer sein.  Die hele wêreld soek jou, sê hy vir my.  Ons besef daars iets fout.  Ons stop en Carel dring daarop aan dat ek uitklim, sodat hy weer kan bestuur.  Ons radio ons vriende en sê vir hulle dat ons vir ‘n oomblik uit die konvooi gaan onttrek.  Ons gaan omdraai en terugry, tot waar ons opvangs het.  Liewe Susan en Pierre draai saam met ons om. 

Ek sit met bewende hande en kyk na al die whatsapps.
Bel my asb . . . Sussie
Bel asb jou sussie . . . Skoonma
Carli, bel ons asb . . . Ma
As jy die boodskap kry, bel asb jou suster . . . Conrad
Jammer vir jul verlies . . . Tannie Bets
Voice note van Richard: Ek is jammer om te hoor van Pa Willie se dood.

HERE, dit kan nie wees nie??????????????????? 

Ek bel vir Renlle, maar kom nie deur nie.  Ons stop langs die pad en ek bel weer.  Ek kan nie hoor wat sy sê nie, sy huil te veel.  ‘Pappa is weg, my sussie’.  ‘Hy is dood’.  Daar tussen Lady Grey en Barkley Oos, langs die pad, tussen die berge, breek ‘n stuk van my hart, mors af.  My kop sukkel om te process wat my ore sopas gehoor het.  My eendjies hardloop rond, spring op en af, niemand staan in ‘n ry nie. Ek is nog nooit deur so iets nie.  Dit voel unreal.  Carindi huil ontroosbaar, maar haar liewe Tannie San en Oom Pierre hou haar vas.  Ek klim in die kar en Pierre kom staan buite my deur, met sy hand op my arm bid hy. Ons het dadelik die Bushlapa gaan pak en gehak.  ‘n Halfuur later is ons oppad terug Pretoria toe, 800km.  My foon is nie vir ‘n minuut stil nie. Ek laat weet my naaste vriende, en toe almal sien ek is online, kon hul seker aflei dat ek teen daai tyd al die nuus gekry het, en wou hul simpatiseer.  Die pad was uitmergelend lank en toe ons by die huis stop voel dit asof ek 10 sakke uie geskil het.   

Ek, Renelle en Carel besoek Avbob. Ons bespreek die roudiens vir daardie vrydag, presies twee weke nadat ons hom die laaste keer gesien het.  (vandag is dit 3 weke)  Ek gaan gee my Pa se navy suit  baadjie by die Dry cleaners in, want ek wil hom by die roudiens dra.  Ons gaan laai al die goedjies wat ek toe skaars 11 dae terug by die Kliniek gaan aflaai het, weer net so op.  Van die klere nog nie eens gedra nie. Waar gaan mens tog met die goedjies heen?  Ek het vir my en Renelle elkeen ‘n pakkie pajamas uitgehou.  Iets wat ons sal kan gebruik en wat sal pas.  En my Pa se gunsteling hoedjie hang aan die kapstok in ons huis se ingangsportaal. 

Ek vra, ‘n goeie Pastoor vriend van ons gesin, of hy die diens sal lei.  Oom Bles het my Pa persoonlik geken.  Hy het die sterk, gesonde, nederige gesinsman as Willie Hallelujah geken.  Die man wat nooit skaam was vir die evangelie van God nie en die een met die harde stem, wat tydens ‘n diens, kliphard sou HALLELUJAH as hy met iets saamstem.  Nes Pastoor in die diens genoem het, baie mense het seker nie eens geweet wat ons van is nie, want my Pa was WILLIE HALLELUJAH.  Terwyl ek en Renelle saam met Louise van Avbob besig was om die blaadjie te finanliseer, vra ek vir Oom Bles watse skrif hy gaan lees. . .

Jesaja 53:12
Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir oortreders gebid het.
Ek kon nie ‘n meer gepaste skrif kies nie. My Dad se nederigheid, eenvoud en opregte liefde vir die Here het gesorg dat hy vandag saam met die grotes aan tafel sit en ‘n feesmaal geniet. Sonder vlek of rimpel. Ek glo dit, without a doubt.  

Ons het ‘n mooi, maar eenvoudige kis gekies, want die enigste ding van my Pa wat soms uitspattig was, was die klomp hemde en dasse in sy kas, jare terug.  Ons skryf elkeen ‘n brief vir die blaadjie, ons kies elkeen ‘n foto en ‘n liedjie en my Pa se drie kleinkinders, wat hy natuurlik nie meer geken het nie, skryf ook elkeen vir Oupa iets.   Ons kies oranje en geel blomme, want dit herinner ons aan een van sy hemde.  Deur dit als, voel my Ma soos ‘n outsider, maar op haar manier, ondersteun sy my en Renelle in al ons besluite rondom die diens en hoe ons dit beplan.  18 jaar se geskeide lewe, kan nie die 26 jaar wat hul saam ‘n lewe gedeel het uitvee nie.  Sy het ook seer, en ek besef my Pa se dood moes baie ou herinneringe kom herroep het.  Ons almal weet, my Pa het swaar gedra aan die skuld en spyt oor hul egskeiding. Maar net soos ons, het sy hom ook al jare terug vergewe. 

Ek, Renelle en Carel gaan kyk voor die diens na sy liggaam.  Alhoewel Renelle hom die aand van sy afsterwe gesien het, wou ek graag baai sê en sy wou ook weer groet.  Carel gaan saam om die Pietersen girls regop te hou.  DANKIE, Love.  Op ons versoek het die ondernemers hom sommer in die splinternuwe pakkie pajamas gelos. Die pakkie wat hulle besig was om vir hom aan te trek, toe hy inmekaar gesak het. 
EK is jammer dat ek nie daar was nie, Pappa!  Ek is lief vir jou, Pappa! Ek vat aan sy koue voorkop en draai om. . . Hy is nie meer daar nie, sê Renelle vir my. Ek weet, my sussie, ek weet . . .

As mens vir agt jaar in ‘n Ouetehuis bly, krimp jou wêreldjie, daar is nie meer ‘n vriendekring nie.  Die Pietersens was any way, nooit familie vas nie, en hulle bly almal ver. 9 April hou ons vir ons Pa ‘n roudiens.  Net ‘n handjie vol mense, my en Renelle se vriende wat ons bystaan.  En vir die wat ver is, word daar gestream.   Mooi en sag soos my Pa se lewe die afgelope jaar, maar eenvoudig en met ‘n reguit boodskap.  Geen groot gedoente nie.  Nes Pappa.  By die huis gekom, sit ek die mooi foto van hom en sy drie kleinkinders op die eetkamertafel neer en ek steek twee kerse aan.  Ek weet ook sommer, van nou af sal die kerse elke jaar op die 4de April in ons huis brand. 

Maandag 12 April is my Pa veras en woensdag 14 April, presies 10 dae na sy dood, bel hulle my om die as te gaan haal. So vinnig.  Tyd staan nie stil nie, nie eens vir een blerrie minuut nie.  Ek hoor hoe my Pa vir my sê: ‘Die mense vat nie nonsense nie, jong’.  Louise en haar man wat die Avbob tak besit, is wonderlike mense.  Mense soos hulle maak ‘n moeilike pad, meer draaglik.  Louise het als met soveel deernis, omgee en liefde hanteer. Sy antwoord al my vrae oor verassings en dinge, en toe ek haar groet, gee sy my ‘n stywe druk.  Ek ry werk toe, met die hout kissie langs my op die passasiersitplek. . . Hy is nie meer hier nie, hy is nie meer hier nie, vertel ek myself.  HERE help my om aan hom te dink as Gees, asseblief! Ons is mense en ons dink in human terms, maar met die dood van ‘n geliefde maak dit te seer. . . Mens respekteer die menslike liggaam, want vir amper 77 jaar was dit die omhulsel wat my Pa se Gees gehuisves het, dis hoe ons hom geken het.  En dis normaal, maar in hierdie tyd moet mens jouself die heeltyd herinner, dat ons liggame net tydelik is.  Die realiteit tref ‘n mens wanneer jy, twee weke terug daai einste hand vasgehou het, wat nou as AS, langs jou in ‘n klein hout kissie lê.
Ekt so week of wat terug vir Carindi die konsep van Gees en vlees probeer verduidelik, sy së toe vir my:  ‘So, as ‘n mens se Gees te groot word, dan kan jou lyf hom nie meer binne hou nie’. ‘NETSO, sussie, netso!’ 

Ek en Renelle het einde April, ‘n naweek weg, bespreek.  Daar in die natuur, sal ons Pa se as gaan strooi, lag en huil, memories deel en afsluiting vind.

My Pa se dood kom leer my ‘n paar goed. . . goed wat ek dalk al baie gehoor het, maar wat nou vir my ‘n harde werklikheid geword het:
More is nie belowe nie. 
Ons maak planne vir later, maar later gaan dalk nie kom nie.
Maak reg wat verkeerd is.
Aardse dinge dra nie ewigheidswaarde nie. Dit vergemaklik dalk ons lewens, maar jy kan niks saam met jou vat nie.
Hierdie wêreld is net tydelik.
Wees seker van dit wat jy in gebed vir God vra. My kort en God se kort is nie dieselfde nie.


Al was ek nie reg om te groet nie, was my Pa reg om te gaan.  Hy is eintlik al die afgelope 3 maande, oppad. . . sy liggaampie kon nie meer sy Groot Gees binne hou nie.  Mag ek Pa se memory laat voort leef, deur ‘n lewe te lei, wat Pa se goedkeuring sal wegdra. 


DANKIES

Dankie Here, dat Willie Hallelujah MY Pappa was.  Dankie vir U groot genade, dankie dat ek troos by U kan vind. 
Dankie Renelle, dat ons saam die paadjie kan loop.  Ook wanneer ons saam weggaan om Dad se as te gaan strooi.  Dit help om te weet, mens gaan nie alleen hierdeur nie. 
Dankie Mamma, dat jy vir die beste jare van sy lewe, daar was vir hom. Dankie dat jy hom liefgehad het en jammer oor die seer. . .
Dankie Louise en Willie van Avbob, julle was die klontjie suiker in ‘n bitter koppie koffie.
Dankie aan al die personeel by Blymoedig, wat so mooi na my Pa gekyk het in die 9 dae wat hy by julle gebly het.
Dankie Amonique en Annaliese van Silversig, vir als wat julle vir hom gedoen en beteken het. Ek sal dit nooit vergeet nie.
Dankie Oom Bles dat Oom die diens vir ons gelei het, Dankie ook vir die belangstelling in my Pa se lewe.
Dankie Carel, jy is my SOLID GROUND, en ek is lief vir jou, baie baie.
Dankie aan elke vriend en vriendin, wat daar is vir my en Renelle.
Dankie aan elkeen wat tot hier gelees het, en die hartseer met my deel.

Dankie Pappa, dat jy van daar bo af vir my knipoog. 

Ek hoor hoe jy vir my sê: Dis okay, Skattie. Mis my, maar laat my gaan. . .

. . . Love you, always. Tot ons mekaar weer sien . . .

Shoulders – Song van King and Country

2 thoughts on “Sonder Vlek of Rimpel

  1. en met ‘n kleenex in die hand wil ek net sê dat hierdie skrywe deel van closure kry, is……….sterkte met die pad vorentoe. Dis soos om op ‘n Big Dipper te wees, maar as jy net elke dag se emosie erken en daarmee deel sal dit makliker wees…..

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s